Categories
Gedigte

Andringastraat

(Geskryf in 2019)


vanoggend in Andringastraat
het ek twee bejaardes op ’n eerste date gesien
ek weet dit, want die oom is amper doof
en ek kon hom oor my oorfone hoor
hy het haar vertel dat sy oorlede vrou 
omtrent 5 minute gevat het elke aand
om haar tande te borsel
dis herfs alweer
en hierdie keer weet ek iets van die onweer
wat binnekort deur die skeur in die hemel
die hele dorp gaan kom natlê
soos ’n groot hond pas uit die swembad
diep in die winter nog
gaan hierdie twee mense koffie drink
onder ’n nuwe kombers
ek gaan skryf
asof elke dag my laaste is 
en oefen om lief te wees
asof elke mens my naaste is 
na al die winters
dink ek nie dat ware liefde
die skaarste is nie
of dat dit die swaarste is nie 
dis sommer tussen die die badkamer en die bed
na dertig jaar se saamly
dis om vir daai 5 minute
wat sy haar tande borsel 
so nou en dan dit reg te kry 
om wakker te bly

— Danie Reënwolf

Sluit aan om die gedig te lees.

Leave a Reply