Categories
Gedigte

“Belowe”- Joannè Venter

Belowe

Jy belowe my dat ons geen beloftes hoef te maak nie. . .

Dat jy nooit my vlerke sal knip nie, my altyd sal ondersteun.

Jy sien my storms, bêre jou sambreel en dans in my reën, baljaar in my modderpoele en stap vuil voete deur my hart se mure.

Ek trek my skoene by jou voordeur uit, stap kaalvoet deur die kamers van jou hart. Bekende musiek speel in die agtergrond. Voordat ek myself kan verskoon is jou hande in my hare, jou lippe op my nek, die oorverdowende geraas in my kop. . .

T  j  o  e  p  s  t  i  l .

Jy sê nooit dat jy my liefhet nie, jy trek my styf teen jou bors vas en slow dance met my terwyl die kos op die stoof verbrand.

Jy sê nooit dat jy my liefhet nie, jy vra my of my demone weer by my kom spook het en of slapeloosheid weer langs my kom slaap het.

Ek lê langs jou op die bed, net ons vingerpunte wat raak en voel hoe jou elektrisiteit deur my vloei.

Voel hoe jy hart stil raak, jou siel weerloos, jou oë vasgevang in myne en Spoegwolf wat in die agtergrond sing oor storms en ons seer.

Wanneer die wêreld uiteindelik stil word en ons kan hoor hoe die verkeersligte van kleur verander vra jy my om te bly.

En ek wil.

Die Here weet ek wil.

Maar jy het belowe dat jy nooit my vlerke sal knip nie.

– A

Leave a Reply