Categories
Kortverhale

“In ’n Wêreld vol kuns, gedigte en eerstes vir almal” – Heideli du Plessis

Dit is elf uur op ’n Sondagaand. Ek drink ’n Rennie voor ek in die bed klim terwyl ek vir myself vra of dit regtig al ooit die moeite werd was om rooiwyn te drink. Dom vraag. My Sondae planne is gewoonlik kerk en dalk ’n koffie saam met vriende. Vanaand was bietjie anders, of altans vandag.

Wie hou anyway ‘n show 3 uur op ’n Sondag middag?

Ek is bietjie opgewonde. Ek staan in die ry soos ’n graad een in die snoepie ry sou staan die dag na hy sy tandemuisgeld gekry het en wag om te hoor waaroor Danie wil gesels. Firstname basis is nog glad nie ’n ding nie, maar die tandemuis ook nie so whatever. Ons gaan sit, gaan haal kos en kom sit weer. Ons wil begin eet, staan weer op, want ons sit op iemand se plek en sit toe weer vir die laaste keer. Lasagna, ’n glasie Gin en ‘Warmer voor die tuimeldroër.’

Die digbundel lees “Danie du Toit” en ek dink nie een van ons twee besef wat die aand vir ons inhou nie. Dis nogals next level om deel te wees van ’n ‘Danie-eerste’. Ek het nog gedink ek vat ’n happie van my R50 blokkie Lasagna toe mense begin hande klap en vier asof dit 12 uur is en iemand se Oupa nou net 80 jaar oud geword het. Ek kyk op en daar staan die man. Danie Reënwolf du Toit. Stoksiel alleen.

Vir ’n oomblik sien ek myself voor in Juffrou Scholz se afrikaanse klas in graad agt – net voor ‘n mondeling. My hande sweet en my bene kry hulle eie persoonlikheid.

Re-de-naars. Lettergrepe, want letterlik ‘n rede om naar te wees. Dis flippen stresvol man. Ek het geweet hy stres, want hy het self so gesê.

Sy woorde vorm my woorde en ek skryf stories in my kop

Ek kry vrede op die ritme van Lenie Blou lll se oorspronklike akkoorde

Die tannie agter my sukkel met die woorde, maar dit bly mooi

Ons is nog studente

Ons betaal kaartjies eerder as rente

En note is beter as waardelose sente

Hier is soveel meer as net Danie se talente

Dit is ’n uur later en ek dink daar kon tenminste vyf vlieë in my mond in vlieg terwyl ek sit en oopmond kou aan rou talent. Goeie donner dink ek terwyl my (koue) lasagna nog net so voor my staan. Warmer voor die show. Aaah wow. Classic Heideli.

“Gaan ons ons boekies laat teken?” vra Ruhan toe. Klein agtergrond, Ruhan het saam met Danie geswot. Daaityd.

Kyk ek was nog altyd sleg in beplanning en dit is in sulke oomblike wat genade mens net weer oor die kop kom bliksem met die sê ding “Stick with me I’ll take you places.” My beplanningsvermoë is dié wat eintlik net met ‘n tee-lepel vergelyk kan word so lang storie kort, Ruhan het ons kaartjies gereël. So ons het saam hóm aan ’n tafel gesit, wat beteken dat ons saam hóm gestap het om ons ons “boekies te laat teken” wat beteken dat ons toevallig in die kringetjie gestaan het toe Danie sy ‘vriende’ nooi vir afterparty pizza en wyn. Dit was so iets …

“Jih, Willem, gaan ons bietjie pizza gaan eet vanaand. Sal dit oraait wees?”

“Ja nee verseker, Ruhan, is jy in?”

“Yess , hoelaat wil julle gaan?”

“Sewe uur; ses dertig? “

Dit is nou waar ek en lizandie met ’n mond vol tande staan. Ons wil nou nie voorbarig wees en onsself in hierdie dialoog in skryf nie. “Weet jy, Danie, jih ons was einlik van plan om kerk toe te gaan, maar heyyyy, ek is seker ons sal ka…”

Nee. So ons staan so treetjie terug kyk vir mekaar en aanvaar dat ons obviously nie deel van hierdie uitnodiging was nie. Toe slaan die nat vis ons. Danie loop en Willem draai na ons toe. “Sien ons julle daar?” Selfde gevoel toe ek my uitnodiging vir my eerste graad vier prysuitdeling gekry het. “Ons kan?” antwoord Lizandie toe so asof ons nou sulke moerse opoffering moet maak en eintlik het ons net glad nie die uitnodiging verwag nie. Ons “play it cool” soos graad 7 kinders wat nou vir ’n junior kan sê waar hy nie mag speel nie, want if you want to play with the big dogs don’t piss like a puppy of iets soos dit, ek weet eintlik glad nie wat om nou te doen nie. Almal is al weg. Die meeste mense het al in die eerste vyf minute na die show Danie se digbundel deurgelees asof dit die nuutste Kook en Geniet van 2020 is en hulle volgende week op Masterchef moet wees terwyl ek en Lizandie in my Oupa se ou Polo Classic sit en wonder of dit awkward gaan wees om by die cool tafel van omtrent élke hoërskool kafeteria te gaan sit.

OMW Heideli. Dis nie High School Musical nie en sticking to the stuff you know is basically om impulsief te wees. So nou is dit so. Ons kry vir Ruhan by die kerk om agter hom aan te ry na die Pizza-plek wat hy voorgestel het, omdat dit blykbaar stil is.

Nou is ons hier. Of daar. Dit voel of ek vir my eindeksamen punte wag en ek sit op sulke regtige ongemaklike geel bankie by ’n tafel vol soortvan vreemde mense en wag vir Danie om sy eie partytjie te join. Ek wonder waaroor mens sal gesels en of ek hom moet vertel van daardie keer in 2016 toe ek vir die eerste keer hulle musiek gehoor het. Hoe ek en Nico Tiedt sommer net om snaaks te wees saam hulle ‘n foto gaan neem het net om die mense wat régtig in die ry staan en uitfreak eintlik net te mok en hoe ek geantwoord het met “ja, dankie, en jy?” toe Danie vir my vra of ek okey is toe hy langs my staan vir ’n foto. Of ek langs hóm en toe soos ’n idiot voel. Dis hoe dit werk.

Nou moet ek gou eerlik wees. Ek dink ek ken een Spoegwolf liedjie régtig uit my kop uit. Of ek ken tenminste 5 liedjies se koor gedeeldte. Die res is daai wat jy ken , maar ook net kan saam sing as die liedjie self speel en dan is dit ook nie eers om in full confidence te sing nie , want jy moet eers wag vir die eerste letter van die volgende woord voor jy régtig weet wat om te sing. Ek’s nie ‘n moerse spoegwolf fangirl nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek love hulle musiek, maar daar is iets aan Danie se skryftalent wat maak dat ek Lente in April mis . Dit het nie begin by daardie 2016 innibos show nie. Dit het begin toe ek die kortverhaal in 2019 agter op Koma se CD kassie gelees het. Turns out dat regtig mín mense daarvan weet, want CD’s koop is blykbaar old-school en overrated en eintlik het my kar net nie ’n Aux nie. So whatever. Die mense mis uit op iets wat beter is as enige van die gedigte in hierdie wêreld vol kuns, nuwe goed en eerstes vir almal. ’n Kortverhaal wat my letterlik meer trane in my oë gegee het as Spirit self toe ek vyf was en my regtig net nuuskurig gemaak het oor hierdie man se menswees.

Ek het so gaan sit dat Danie darem redelik naby my kan sit. Ek weet ek het vroeër gesê my beplanning is redelik next to nothing, maar sommige situasies is belangriker as kersies op ‘n verjaarsdagkoek. Daar is twee stoele oorkant my oop en een bietjie verder. So my kans op ‘n decent gesprek is redelik 80:20 en eintlik is net dat ek daar was eintlik pretty cool genoeg. Toe ek weer sien kom sit hy langs my op daardie selfde ongemaklike geel bankie en ek voel nie eers sleg dat ek hom nie gewaarsku het dat dit regtig nie ’n lekker plek is om te sit nie. Ons het cool gesprekke gehad. Doodgewone, all casual gesprekke en ek was heel tevrede net daar waar ek gesit het. Geel is afterall my gunsteling kleur. Al was daardie geel bietjie ongemaklik was dit nogsteeds mooi.

Ek was regtig verbaas oor sy menswees. Daardie selfde menswees waaroor ek oor so lank regtig nuuskierig was. Ons deel rooiwyn en gee witwyn aan soos nagmaal brood, eet pizza en Danie eet sy kalamari wat volgens my way te min was vir iets wat nie van die kiddies menu af bestel is nie, maar dis cool. Die aand was regtig cool. So tussen deur oproepe en famous-mens goed kon ons goed leer soos dat Danie régtig nie kan sien nie en dat sy bril nie net ’n ‘look’ is nie. Dat lewe gebeur het en om in te pas in graad agt nogals goeie skrywers maak. Dat tattoos by enige Piet nie die beste idee is nie en dat jou menswees nie aan jou status verbind is nie. Bliksem hy is nederig. Nie daardie ag stopit-hou-aan tipe nederig nie. Net opreg nederig en ek dink firstname basis is oraait na vanaand.

My boetie dink uiteindelik ek is cool genoeg om voor sy maats van my te praat en dis nogal ’n big deal vir my aangesien hy die hoofseun was in graad 7 terwyl ek net ’n ‘gewone leier’ was toe ek 13 was en “tonight’s gonna be a good night” nog ’n treffer was. Nou’s hy net groot en 17 en het nog nooit regtig omgegee oor wat ek doen nie. Tot vanaand. Al wat ek het van die aand is ’n skelm foto wat ek moes neem net om vir my boetie te wys dat ek nie jok nie, want hoekom sal ek op ‘n Sondag aand saam Danie en ander vreemde mense sit en pizza eet.

Ek groet hom die aand met ’n highfive en ’n glimlag en ek wonder of hy besef dat ons nou vriende is.

Dit is elf uur op ’n Sondagaand. Ek drink ’n Rennie voor ek in die bed klim. Dit was definitief die moeite werd om rooiwyn te drink.

Categories
Kortverhale

Kortverhaal Heideli du Plessis

Dag 1

Ek voel soos tien ure in ʼn kar en ek mis ʼn stort op die oomblik meer as wat ek die huis se Sondagmiddag-waffles met stroop mis, maar as ʼn mens net vir omtrent drie dae in Stellenbosch is, moet ʼn mens die tyd ten volle benut. En om Kraaifontein toe te ry vir skoon klere is blykbaar overrated – blykbaar. Ek is redelik gatvol en nou moet ek my tande borsel in iemand se tannie se huis se gastekamer.
“Is julle reg?”
Ons neem dit as ʼn retoriese vraag, want die antwoord kan letterlik enige kant toe gaan en dit is eers later die aand toe ek en Lena soos losers alleen by ʼn tafel vol vreemde mense sit dat ek besef dat die antwoord eintlik “nee” moes wees. Ek het amper begin om vertroue in die samelewing te verloor, toe iemand ons bestaan uiteindelik erken en in daardie oomblik was die wyn wat ek gedrink het ewe skielik nie meer so sleg nie. Met ʼn classic handdruk en so ʼn skewe glimlag sê hy oor al die bottels op die tafel: “Jacques, aangenaam” en ek kom nie eers agter hoe koud sy hand is nie. Hy vra ons name en so ʼn paar ander goed en toe moet ek vir hom verduidelik wie ek is. Dit voel of ek probeer aansluit by iets soos supersingle.com en ek moet my bes probeer om nie te bloos nie, want ek dink aan hoe ek sy vraag antwoord met “Haai, Heideli, aangenaam en so by the way, ek het nie ʼn kêrel nie.”
Dit is obviously nie wat ek gesê het nie, want die man maak my op my senuwees, en die gesprek stop toe vir so ʼn rukkie nadat ek myself net as doodgewone ‘Heideli’ voorgestel het – nie net sonder ʼn kêrel nie, maar ook sonder hoop vir my toekoms, omdat ek soos ʼn skilpad in my dop gaan staan en kruip as die sosiale druk net te veel raak.

Ons is op pad na die volgende plek – net oorkant die pad. Stellies se nagwindjie is besig om dwarsdeur my trui te waai en vir so ʼn oomblik onthou ek hoe koud sy hand was. ‘n Perfekte nagedagte.
“Kry jy koud?”
“Flippen koud, maar dit is okay, ons gaan nou weer binne sit.”
Dit was weer die naaste ding aan ʼn gesprek vandat ek myself voorgestel het.
My ongemak het al so ʼn bietjie ontdooi soos ʼn tjoppie voor ʼn Saterdagaand-braai, en ek en Lena is al regtig honger. Ons frustrasie begin weer kop wys toe niemand verstaan dat ons ongeveer vyf ure terug by Beaufort se OneStop-Wimpy die kleinste burger op die spyskaart geëet het nie. Volgens Jacques is die plek waarnatoe ons nou op pad is, se burgers ʼn wenner, maar ek is eintlik net lus vir iets wat kan smaak soos my ma se kos. Ek troos myself deur te dink dat hy eintlik net ʼn bietjie meer tyd saam met ons wil spandeer en ek settle maar vir so ʼn halfgebraaide patty wat eintlik nog in die veld kon rondhardloop.
“Ek gaan net so een steel” en voor ek weer sien vat daardie selfde koue hand ʼn chippie uit my bord uit.
“Dis reg, eet maar. Ek dink anyway nie ek gaan alles self op eet nie.”
Hy mompel toe deur sy skewe glimlag en my halfgekoude chippie dat hy eintlik ʼn meisie moet kry. Dit kom alles net daarop neer dat hy iemand soek wat haar kos met hom sal deel. Ek is amper doodseker hy het my nou net uitgevra. I mean, watter ou deel sy dop met ʼn soort van-vreemdeling? Daardie selfde dop waarvoor hy ʼn halfuur in ʼn ry waar ʼn mens omtrent die ou langs jou se parfuum kan ruik wat hy twee dae terug aangespuit het, moes staan en wag. Ek voel soos iemand in graad twee wat my hand wil opsteek en ek moet net keer voor ek kliphard sê: ”Hallooo, haai, ek is Heideli en ek deel graag my chips.”

Nou is dit al tyd om aan te beweeg NuBar toe, want blykbaar was jy nie uit as jy nie jou aand daar afgesluit het nie. Eintlik wil ek net daar waar ek is, bly sit. Ek het nou net begin warm word en ek dink hy sien hoe ek en Lena moed by mekaar skraap om daardie selfde Stellenbosch-wind van nou-nou te trotseer.
“Kom nou man, dit is nie so erg nie en as julle regtig koud kry – ek het twee baadjies aan, so julle is sorted.”en ek troos myself weer daaraan dat hy dalk net bietjie meer tyd saam ons wil spandeer.
“Ek is okay, dankie. Die kar is darem nie te ver nie.”
Ek kan myself amper skop , want toe ons buite kom bliksem die koue my op my bors en ek moet mos altyd myself cool hou. Donners simpel dink ek terwyl ek met my arms gevou stap so asof my lewe daarvan afhang.
Hy lag en se met so ‘I told you so’-houding: “as jy koud kry, ek het toevallig ‘n baadjie in my hand” en ek draai net om sonder om ‘n woord te se, vat die baadjie en trek hom aan. Toevallig, dink ek
Toe-val-lig.

Dag 2

Ek sien hom eers weer die volgende aand na die kaas-en-wynfees – die eintlike rede hoekom ons in Stellenbosch is. Ons bestel die pizza waarvoor ons nog heeltyd lus is, saam met lemoensap en ʼn cream soda en ek voel weer soos ʼn graad twee-kind, maar ek wil nie die keer my hand opsteek nie, ek wil van die spyskaart se kinderafdeling af bestel. So met my eerste slukkie stap Jacques by die deur in en op daardie oomblik is die feit dat ek hom nie vandag gesien het nie, al lank vergete. Obviously weet Lena dat my hart op die oomblik net sowel ʼn springkasteel kan wees en ek kry so ʼn ligte skoppie teen my shin onder die tafel. Kinderlik opgewonde.
“Ag nee. Wat drink julle?”
“Cream soda,” antwoord ek, en Lena sê agterna “Lemoensap.”
Voor hy sy teleurstelling te duidelik maak, sê ek met ʼn krap in my keel: “Met ʼn bietjie vodka,” en lag dadelik, omdat ek weet dat hy weet dat ons nie heeltemal die waarheid praat nie. Hy is die tipe ou vir wie ek bereid sal wees om te leer bier drink.
Hy eet weer ons leftovers en ek is oortuig daarvan dat dit sy manier van flirt is, maar in dieselfde asem probeer ek myself oortuig dat hy dalk net regtig honger is. Toe ek weer bykom, trek ons gesprek ewe skielik by mans en hoe hulle almal eintlik maar dieselfde as pizza is – hulle het almal dieselfde base, net met verskillende toppings. Jacques stel toe voor dat ons eerder die onderwerp moet verander. Hy begin praat oor sy ou Datsun, 1400 dink ek, so asof dit die eerste speelgoedkarretjie is wat sy ouma vir hom gekoop het toe hy drie was; en hoe jy op daardie ouderdom net lief is vir jou ma en jou pa en daardie selfde speelgoedkarretjie; en vir ʼn oomblik sing Snotkop nie meer van sy Mustang op Margate se strand nie. Ek en Lena wou regtig net so graag bietjie die see gaan sien.

Dag 3
Almal drink wyn, maar dit het al vir my begin voel soos huiswerk en iets wat ek regtig nie meer wil doen nie. Ek het minstens Lena se geselskap en ek vertel haar hoe ek al te veel wyn gedrink het vir iemand wat regtig nie baie van wyn hou nie. Dit is te koud in die koelte en dit is te warm in die son en ek weet regtig nie hoe om oor die situasie te voel nie. Lena trek nog heelpad my siel so ʼn bietjie oor Jacques uit en ek grap maar nou al saam, want ons al twee weet.
“Pizza en bier. Ons Uber sommer soontoe,” sê sy, lag dan soos sy altyd lag, en ek is skielik regtig dankbaar vir Lena hierdie klein vakansie.
“Ons sien hom weer vanaand, hou op om so hartseer te lyk.”
Ek gee haar net ʼn halwe vuil kyk, want soos sy aangaan, wil ek môre al met die man trou en eintlik is hy regtig net ʼn cool mens vir my. Ons praat oor hoe ons ʼn WhatsApp-groep gaan begin en net totally best friends gaan wees sonder om hom regtig ʼn kans te gee om self te besluit hoe hy daaroor voel.

Die dag is verby en ons is op pad na sy koshuis toe om te groet voor ons terug ry na ʼn plek wat eintlik sy huis ook is. Hy het nou net gaan draf, en ek verbeel myself ewe skielik dat ek ook van draf hou – amper soos ek myself heel naweek probeer oortuig het dat ek eintlik van wyn hou. Die groet is hartseer, amper soos wanneer ʼn goeie fliek moet eindig, maar ek troos myself daaraan dat daar ʼn ‘nommer twee’ gaan wees soos met alle goeie flieks wat doodeenvoudig nog nie kan klaar wees nie.
Ons ry weg en hy bly agter saam met so ʼn klein stukkie van my hart. Dink ek.
Ek kyk vir Lena en vertel haar dat hy iemand is wie se baadjie ek sal wil hou wanneer ek hom leen en hoe ek my chips met hom sal deel wanneer ek regtig self lus was daarvoor en hoe ek sal leer bier drink, net sodat ons kan gaan bier drink en gesels oor hoe ons albei eintlik van draf hou, op ʼn Saterdagaand.

Ek vertel haar dat hy iemand is oor wie ek sal skryf.

Sy naam is nie Jacques nie en ek noem haar sommer Lena, want hierdie naweek voel vir my soos iets wat uit ʼn scene van Ballade vir ʼn Enkeling moet kom.

Vriende vir Altyd.