Categories
Gedigte

Die naweek se beste gedigte

Daar was hierdie naweek ’n enorme hoeveelheid gedigte gestuur. Ek het die beste inskrywings gekies. Hierdie gedigte het gesorg vir die lekkerste Sondag wat ek al in jare gehad het. Dis hardop gelees terwyl Marguerite koek gebak het.

“Jonker” – Erika Grobler

As ek Ingrid was,
dan was jy die see
en dan het ek
magteloos
in jou gety ingegee.
Salig het ek in jou arms gewieg
en gehoor hoe die branders fluister:
“Ek het jou lief.”

Poësie deur Alisha du Plessis

1.
En daai aand op die voorstoep
Onder die dowwe flikkerende lig
Was alles skielik duidelik

Iewers tussen ’n groen-oog swerwer
En ’n versigtige siel het die vonke
goud geglinster

Hy’t hare weggeslaan
En sy’t syne laat stil staan
Stadig, seker, tot die besef gekom

Dat dit is hoe die liefde klink

2.
Want in ’n oomblik
Verdwyn die sinnelose gebeef
En dis asof die melkweg
Om ons rondomtalie

Teen my beter medewete
Knyp ek my oë bietjie stuiwer toe
Voor die son sak oor
jou en my

3.
Adonis
Die son het sy skans geknip
En meteens was dit net ek, jy
En daai dimpel op jou regter-wang
Wat met elke kreukel
selfs die rigiedste van harte tot
Hulde kon bring

“my sterrekind” – H. Tromp

die sekelmaan herinner my aan jou glimlag vanaand
jy’s my ligtoring op ’n stormreën aand
jy’s die onbereikbare konstelasie bo my
tog sit ek aand na aand in verwondering oor jou

dis onnatuurlik hoe iets so mooi, so sinistêr kan wees vir jou lewe
hoe liefde jou hartskamers verbrokkel
hoe elke sproet op jou wang ’n traan op myne is
ek wil net eenkeer uitvind wat agter daardie amandel oë van jou skuil

ek wil sien wat jy sien
voel wat jy voel
my sterrekind, help my om beter te verstaan
hoe my liefde, my omgee, my hart nie genoeg kan wees nie
hoe ek nie eers die kleinste inkeping in jou gedagteswêreld kan maak nie

al wat ek vra is een verdomde kans
een kans om my lirieke in jou oor te fluister
en om my liefde teen jou voorkop te skryf

ek soek net een kans om die konstellasie te wees waarin jy jouself verloor

“Amper vir altyd” – Helene du Toit-Lourens

Maak maar jou lysie my lief
Alles wat jy wil doen, jy kan my sê
Ek kom huis toe, amper vir altyd
en wil jou my alles gee,
dit wat jy van my wil hê.
Die toekomsveld lê windverwaaid,
net beloftes, opoffering oor jou gesig,
woestynlyne oor my golf en groef
tuiskoms kwes hierdie droef,
gee ons nuwe lig!
Nou maak ons tyd vir die langpad, ek en jy
Kruis sommer net hierdie verlange land plat
En ons onthou die eenvoudigheid my skat
die reis ver weg van stress en strewe,
soos oorbegin, nuwe lewe, ek is hier om te bly!
Ek kom huis toe, my lief!
Maak jou lysie,
……….amper vir altyd!

“Slaap Slaaf” – Wim Retief

Ek was so seker van jou
’n Lewe onderstebo gegooi
Nee, asseblief hoor my smeek
Self-berokken en self-verstrooid

Maandag middernag gehoor jy wou
Spring, waarom en waarheen
Weggeneem na ’n vreemde kamer
Om net nog ’n dag waar te neem

Gryp jou graaf want dis braaf om te kan erken jy’s ’n slaaf van jou gedagtes
So kom en gee jou bedankings

Slaap nou slaaf
Slaap nou slaaf
Van jou gedagtes

’n Steunpilaar, myne en ma s’n
Dalk is jy steeds, maak dit nog saak
Jouself stil gehou met medisyne
En die pyne (lyne) wat jy het kruip nou oor die lyne (pyne) wat ons oud maak

Die Woensdagoggend Rapport gekoop
Klein op bladsy vyf geskryf resessie
Nuttelose woorde met ’n Bybelvers
Ons was gesê “dis depressie”

Gryp jou graaf want dis braaf om te kan erken jy’s ’n slaaf van jou gedagtes
So kom en gee jou bedankings

Slaap nou slaaf
Slaap nou slaaf
Van jou gedagtes en wat van jou verwag is
Môre hou ons begrafnis

Ek praat nou met ’n ander mens, dalk het jou bewussyn gespring ek wens

“Trou-Materiaal” – Ellé Axsel

Kraakvars katoen
en sagte satyn.
Duursame denim
of kant – ragfyn.

Elke persoon is
noukeurig geweef
om uiteindelik vir iemand
troumateriaal te wees.

Sommige moet egter
eers metamorfose trotseer
om van patetiese plastiek
kasjmier te prakseer.

“Liefdes-Oorlog” – André Snyman

as ons asem
sinchroniseer
en jou hartklop
myne beheer
sal soldate van ewige liefde
deur ons soene
marsjeer

“See van Blou” – André Snyman

jy gooi sand op my
in ’n verwarde oomblik
word ek krummel
’n skulp wrummel
die wind skeur deur my
denke, van jou
dit waai weg
maar spoel weer uit
in ’n see van jou

alles om my
is ’n see van blou

“Transkei” – André Snyman

bid ons verniet?
bid ons gladnie?
bid ons reg?
hoe kan mens
teen niks veg

maar alles hier is skraal
soms is die kinders kaal
elke hond op grond
vertel ’n verhaal
hulle praat nie eers
ons donnerse taal

maar soms is dit nie die fout
wat is die fout dan?
want almal hier is onskuldig

maak net toe jou oë
want voor in die grondpad
lê sy sag
sonder krag
sy lê stil
die dogtertjie met die pink

“Bliksemstraal” – André Snyman

jou weerlig slaan
dit donder en dreun
in jou oë
sien ek die reën

jy is die weerlig
dis jy wat liefde slaan
jy gryp my boek
die voorblad is jou naam

jy skree
as jy begin lees
hoe dit is
om ek te wees

dis geen weerlig en rose nie
dis ’n omgekrapte storie

“winter en jy.” – Carmi Wentzel

ek het gisteraand weer gewonder
of die sonsondergang oor die golwe op die horison
miskien meer as ’n vermengde pastel palet was.
of dit nie miskien jy was,
wat saggies geglimlag het
en my omhels het vir al die kleure, wind en weer
wat ek is nie.
ek het vanoggend opgestaan en geweet
dat die 5 uur in die oggend pienk wolke
saam my glimlag.
winter is weer hier, met haar duvet opgetrek
tot by haar ken
en dit val my by
dat ek hoop
jy glimlag ook.

“Gedig #2” – BN Nel

Dans my op die tydmaat
van die sugte op my tong
dra my op jou hande
en sing vir my jou song
fluister liefdeswoorde
saggies in my oor
vertel my al die dinge
wat jy dink ek sal wil hoor
rock my op die ritme
van die passie in jou oë
vul my met ekstase
dan sal ek jou leuens glo
samba dan my dooie hart
poliritmies weer vol lewe
sodat ek die afsterwe
van ons twee kan vergewe

“Gedig #3” – BN Nel

as nag boomgom
trane huil
en uile doofstom
binne skuil
kom sit wees-wees
neffe my
sal jy bid vir my?
as dag koolstof
asem gee
en voete voortslof
treë tree
kom lê wees-wees
binne my…
is daar HOOP vir my?
as nag en dag
een word
en die horlosie
ure verkort
kom staan wees-wees
by my sy
God help my

“Gedig #4” – BN Nel

ek wil gil tot die kranse ore toedruk
en klipvoet wegsluip na ’n afgrond
want die aarde ween oor die onreg
van haar tweebeen mensgedoentes
se gedrag, sluwe slinkse kreature
wat die mooi verslind en grougrys
grate uitspu vir die wat ná hul kom;
dis naarword-waardig, die eiewaan
en die blindheid daaromtrent…
ek wil vloek en die grafietwesens
met ’n uitveër bydam totdat die
besmette bladsy skoon en rein is
en dan… dan sal ek die nuwe aarde
bewerk en liefde saai en vrede hê
in my hart; die voëlgesang in suiwer
alto sal die boomtoppe streel en op
die speelse windjie dartel tot in my
ore; en ek… ek sal hulle vir die eerste
keer werklik in stilte daarna luister…

“Seisoene” – C.J. de Waal (aka Nampo)

Dis nuwe vriende ontmoet en oues groet.
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis om af te klim van die pad waarop jy was en om op ’n nuwe een te wandel teen ’n ander pas.
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis teen die berge op en teen die dale af.
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis om te lag vir goed waaroor jy eens gehuil het, om te glimlag vir mense wat jou verruil het.
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis klaar gestroopte goed wat jou weggehou het van Sy bloed.
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis om dieper in Vader se hart in te beweeg.
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis afskeid van lae en lae van iemand wie jy nie is en Abba wat jou hart oopkloof om te sien waarin jy jou verlus het. ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀
Dis die stem wat sê “kom rus”
Die stem wat sê “kom gerus”
Die stem wat sê “Ek is”
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis reiniging – dis roeping – dis vervanging
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis seer – dis aanvaar – dis gehoorsaamheid
⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀
Dis vrees – dis groei – dis leef ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀⠀ ⠀⠀ ⠀⠀⠀⠀
Dis seisoene op volle dreef.

“Vra vir Jesus” – Kayla Grobler

My gedagtes is harder as my musiek.
Kan iemand vir Jesus bel,
hom vra om my te kom haal.

kan ek weer sê ek is jammer?
dis al ’n jaar later en my musiek kan nie meer met my gedagtes se akoorde byhou nie.

Winter voel skielik kouer, bruiner, alleener.
Hoe stop mens ’n hart,
sonder om te huil?
Hoe breek jy die glas,
sonder ’n harde gemors?
Hoe voel jy okay met wonde
wat steeds bloei?
daar is nie meer mense en objekte om te blameer nie – dis nou net ek.

Vra vir Jesus om ’n Engel saam te bring, ek wil haar vlerke vryf.

“Breek” – Kayla Grobler

Ek wil breek. In elke liewe stukkie waar ek pyn het.
Ek wil myself oopsny en in ’n bloedbad gaan lê en verdrink.

Ek het gebreek. Soos die karoo-grond sonder reën. Die krake is duidelik waar ek myself keer op keer probeer vasplak het na elke keer wat jy gesê het “ek belowe”

Hulle sê die son skyn deur krake soos deur die takke van bome. Maar hierdie son brand my net, my krake is broos.

My bloedbad het my rooi gedoop en dit is my nuwe identiteit;
bloedrooi stukkies wat keer op keer dieselfde goedkoop gom probeer.

“Stukkend” – Daniela Fourie

My hart skeer, hammer, bloei,
My bene bewe, swak, pyn,
My brein skree, raas, huil,
Ek kan nie, Ek kan nie!

My siel moeg, seer, vasgevang,
My asem vlak, kort, snak,
My visie skuins, onderstebo, deurmekaar,
Ek kan nie, Ek kan nie!

Ek moet asemhaal,
Ek moet beweeg,
Ek moet vlug,
Ek kan nie, Ek kan nie!

My trane te veel, te min, weg,
Voel koud, warm, niks,
My hande ysig, bewe, styf,
Ek kan nie, Ek kan nie!

Ek moet praat,
Ek moet dink,
Ek moet SKREE!
Ek kan nie, Ek kan nie!

EK moet stop.

Ek is honger, vol, naar.
Ek is moeg, wakker, klaar.
Help my, Help my!

Maar die mense staar,
Die mense praat oor mekaar,
Ek voel alleen,
Ek voel gesteen.

Hoekom liewe Heer,
Hoekom die pyn,
Hoekom die donker,
Hou my vas, voor ek verdwyn.

My antwoord kom van binne,
My antwoord kom van bo,
Hou vas my siel, hou vas.

Drie jaar van vashou,
Drie jaar van skree,
Drie jaar van probeer uitgrou,
Uit hierdie donker stil, gat so ver geleë.

Gee treetjie vir treetjie nader aan nou,
Totsiens vir wie jy was,

Aanvaar wie jy is en vertrou,
Vertrou in jouself en vertrou in die Heer,
Glo jy IS in beheer.

Hier sit ek nou,
Met hande rustig gevou,
Kyk soms terug na dit wat was,
My pad was lank en dig met soveel las.

Maar my advies bly dus,
Wanneer die donker kom,
En die pyn kom klop,
Asseblief hou vas,
Dit belowe ek jou jy sal weer blom, mooier as wat was.

Leave a Reply