Categories
Gedigte

Die Week se Beste Gedigte

Digters het hul ore op die spoor. Wat ’n crazy tyd is dit nie?
Ek het so veel gedigte gekry in die laaste week wat amper voorspel het hoe sleg alles gaan draai.
Tog is daar hoop. En jy sien dit in hierdie gedigte. Daar is ’n glinster. Iets mooi skyn deur die donker.
Dankie, soos altyd, dat ek hierdie mag doen.
Ek het vanaand minder gedigte gekies, sodat ons almal gemaklik kan lees. Ek sal more die ander opsit.
Danie

’n Gedig deur Nina Erasmus (Wolwedanser)

Verstrengel my sny met joune.
Merk my bloed met ’n afdruk van jou vinger,
Smeer dit oor my wang en sê:
“Alles is okei.”

Miskien glo ek jou,
Miskien nie.

Al wat ek weet is:
Ons kan saam “heel” word.
Laat ons sinne in mekaar vloei
En my woorde jou are binnedring

Sodat ons in brandende hartseer
Geluk,
Vrede,
Of miskien ’n duif of wit lelies kan vind.

“Sus” – deur Nina Erasmus

Dis al twee jaar, sus.
Jou soet Septemberlag-
’n Oopgebarste daisy
Gedurende die somermaande.

Jy sit seker saam met God-
Tussen die wildeklawers
Langs die goue pad vêr daarbo-
En kyk met daardie rock-n-roll oë
Hoe ek ‘n bossie Barbertons los
By die voordeur van jou graf.

Al vervaag jy in ‘n geheue
Bly daardie Lentedag-
Gevul met jou suikerlag-
Steeds gebrand in die hart van my brein.

Dit laat my traan.

Twee gedigte deur Jessica Pretrorius.

Gedig 1:
Jy was Rooi & Saffier
en ek het veilig gevoel
onder jou plafon

Maar jou Saffier was fake
en jou plafon vol rotte

Soos ’n kaktus
in ’n vistenk
deursigtig vir almal
om te sien
Die lewe se lelikste
geskenk.

Want by die Casino
van die lewe,
speel almal, maar
jy is die een wat
verloor.
Oor en oor.

Die House always wins.
So dobbel maar op
geluk en liefde
Dit is in anyway
nie in jou guns.

Jy is ’n dobbelsteen.
Kyk maar of die lewe
jou seën.

Gedig 2:
Jy is toe nie pure,
majestic, genuine of
bad ass nie.

Jys nie ’n wolf nie
Jy is ’n weerwolf.
Nie wit en rein
maar modderig, vuil
en plain.

Jou geboorte met ’n Oak Moon
het jou dalk wit van kleur
gelaat
Maar jou poisonous byt
het ’n lifelong scar
op my
gelaat.

Jy het nie die vermoë
om rasioneel te dink
En met die volmaan
word jy tot niks vermink.
Lelik van hart,
Tande en kloue
Leë oë
Seerkry jou grootste smart.

Metafories byt jy jou
slagoffer en laat
blywende letsels.
Want al wat ek is
vir jou is maar
net nog ’n skepsel.

As jy klaar gebyt het
verslind jy en
enige stukkie sonskyn
word deur jou
beheptheid met die
maan verblind.

Jy is nie ’n wolf
Jy is ’n toxic weerwolf.

Animagus
Shape Shifter is al
wat jy is.
Verander jou persoonlikheid
na jou lus.

“Aspoestertjie – ma’ ok nie” – A du Plessis

En so agter die kuil van my glimlag
En die blik van my bloos
Sit daar jy
Knus,
Warm,
In die holte
Van wat eens op ’n tyd niemands-land was

Die koeël is deur die kerk
En die muise juig
Want die goud aan die einde van die reënboog
Lê toe nou nog altyd so yl
Gestrooi tussen my en jou

Dis ’n feëverhaal soos min
Dis ’n gewarrel en ’n geween
Geen swaard of toring

Nèt ’n toeval met ’n gelukkige einde

“Bladsy 67” – Krizel Langenhoven

Vanaand lê ek op die vere kussing wat vol geprop is met metaforiese gedagtes
Wat van die silwer randjie wat belowe het om te kom
Liefde geprofeseer in ’n swart boek van ’n
Lewendige God
Kerke is leeg
Strate is vol
Vol hongersnood en protes van hoe belangrik lewens is
Terug aarde toe
van haat en kwaad
Lê ’n kind op ’n vere-kussing
Sy wonder oor die silwer rand
Klim op jou ster vonk
En vlieg na die maan waar jy op die vlekke kan dans
Los die moorde en narsisme vir die dwase
Plak jou geluk vlerke aan die apeks van jou hart
En vlieg
Vlieg na ’n plek van geel blomme en watervalle
Waar strate vol mense is wat liefde gee
Los jou karton gesegdes in die kas
Jy het niks nodig nie. Net jou wit skoene. En jou denim baadjie
Sit die swart boek se bladsy 67 in jou sak
Lees hom hardop en los die gedagtes van seer by die hek
Klim op jou gevonkde ster
Vlieg
Na ń meteoriet sonder proteste
Ek sweer
Daar sal ons veilig wees.

“Was ek maar ’n digter” – Corlien Jacobs

Was ek maar ’n digter
Het ek jou menswees met my woorde geverf
soos ’n beeldhouer figure uit hout uit kerf.
Daardie sprankelende glimlag wat my elke dag maak,
Jou mooi, diep woorde wat my hart aanraak,
Sagte poele oë waarin ek kan verdwyn,
Die pragtige geaardheid wat warm en helder skyn,
Soveel passie waarmee jy lewe en laat leef,
Jou siening oor die wêreld en die wete waarna jy streef.
Was ek maar ’n digter
het ek jou prag in woorde vasgevang
en soos stringe pêrels om my nek gehang.

“Verlente Liefde” – Megan Tolmay
[23/10/2018]

Net soos wat die seisoene verander
Het jy saam met die lente jou bloeisels rondom my kom oopmaak,
En my lewe versoet met jou geur.

Jy was die son wat tussen die nuwe blaartjies geskyn het.
Hoop was jou glans
En omgee jou straal

Die glimlag wat jy my kon gee was onmisbaar,
Ons liefde was ’n kleurvolle spiral.
My hart het sonder twyfel na joune afgedwaal.

Maar onverwags het ’n storm wind die bloeisels kom wegwaai.
Helder takke nou grys, hooploos.
En saam met die Jakaranda bome se pers-reën,
Het daar ’n sagte reën oor my wange gerol.

Die seisoen het weer begin verander
En jou mooiheid daarmee saam gevat.
Jou strale het my nou net gebrand,
En jou skaduwee-arms was nêrens om my te beskerm nie.

Jy het my soos ’n vreemdeling by jou hartsdeur laat klop
Sonder antwoord
Deurmekaar

Jou nou verlepte blomme sal ek moet weggooi,
En die glasstukke van my gebreekte vaas-hart moet optel.
Want jou liefde was net ‘n plastiek blom
Onherwinbaar.

 “Storie-telefoon” -Kyle Macdonald

Het die landlyn weer verdwaal?
Kan iemand my kom red?
Vrede het gebel
Die lyn is beset

Ander kwessies moet bespreek word
Maar hartseer hou aan praat
Die gesprek raak nou lank
Die aand raak nou laat

Kry iemand anders op die lyn!
Dalk geluk, of nostalgie
Enige iets anders
Eks moeg vir hartseer wat wil bieg

Vreugde wil ook praat
Hy soek net nog sein
Skielik skrik hy groot
Dis ‘n donnerse landlyn

“Laaste woorde” – Nanette Botha
Ek leen my pen
vir die gedagtes aan jou
wat in my kop kom raas
as ek alleen is.
Ek skryf tot die herrineringsvuur
net as is.
Tot daar van die passie in my bloed
net ink oorbly.

Want ek is die digter
en jy bly my poësie.

“Bittermaan” – Audrey Goosen

die donkerte kruip stadig in,
die maan versteek sy aangesig
en ek,
ek voel nogsteeds alleen.
jy sê is lief vir my,
is jy regtig?
of voel jy ook alleen.

die sterre skyn helder
soos duisende kerse
wat brand vir geregtigheid.
voel hulle ook alleen?
jy sê, van nou af,
is dit ek en jy.
maar,
waar is jy nou,
Bitterman?

“een aand” – Zané Steyn

kom ons wees vir net een aand
dolverlief op mekaar.
laat die gevoel van komplekse ekstase
soos ’n waterval oor ons stort.
laat rauch, blohm en zoid
ons in die agtergrond aanpor,
dat hul lirieke ons muse
vir hierdie tydelike gevoel kan wees.
kom ons wees vir net een aand
dolverlief op mekaar
en dan bêre ons die herinnering
in ’n houtboksie
vol sterretjies geverf
sodat ek dit op my bedkassie kan sit.
kom ons wees vir net een aand
dolverlief op mekaar

“die uilhuis in Nieu-Bethesda” – Zané Steyn

fluisteringe op ’n stoep in Nieu-Bethesda
my naam uit sterre-monde
ry saggies op die wind tot in my gedagtes.
hul raad aan my:
“gaan soek jou muse in oorle” Helen se huis.
daar sal jy leer om hul kritiek en afkeur te vermy.
skep jou eie hoekie vreugde in hierdie wêreld.”
hulle por my aan om van normaliteit weg te breek,
my individualiteit aan die mensdom te verkondig
en nooit vir my muse die deur te wys.
ek maak toe soos die wyses daar bo sê
en skep vir my ’n helder son
waaronder ek kan lê.

“soene in plaas van mercurochrome” – Zané Steyn

het ek nie elke keer
as ek op jou harde sement
neergeslaan het,
net al die wonde
op my palms en knieë
met romanse toegeplak nie
en net aanvaar
dat jy dit beter gaan soen nie?
hoeveel keer kan mens soos ‘n dwaas val?

“Sonneblom Blom Gedig” – Jessica Redelinghuys 

Dis orals kleurvol
waar ons
nie is
nie.

Woorde van ’n
24 jarige Sonskyn.

’n Sondagaand
chick fliek word
’n geleentheid vir
self growth

En ek dink by
myself
Is dit dan
my werk om
die kleur self
by te voeg of
moet ek myself
bevind in
plekke en mense
wat reeds
kleurvol is.

Jy is ’n Sonneblom.
Soek die Son
Gee die Son
Jy is Sonskyn
Jy is Geel
Jy is Kleurvol
Sit dit en gee dit
orals en vir almal
wat dull is.

Die lewe het net
soveel plek
vir oningekleurde
mense.
Wees ingekleur,
met kleure en
mense wat by
jou palet pas.

“Verlange” – Ellé Axsel

Verlange kom in vlae,
bliksem teen my
soos golwe teen ‘n rots,
net wanneer ek begin genees.

Dag in en dag uit
verweer die littekenweefsels
met elke blik en woord.
Staak net tog dié manslag.

Smeer sout in my wonde
en lek dit af met
jou gladde bek propvol
strelende heuning.

Verlange vreet mens op,
maar dis noodsaaklik
nes die tydige getye –
vir wedergeboorte om plaas te vind.
———————————————————-
Inwendige plae

Vier flikkerende vlieë
sit teen my plafon,
hou my uit die slaap uit
en draai om en om.

Elkeen met ’n naam gepas en gegee:
Depressie en Angs en PTSV.
Insomnia keer my kort
voor Droomland se deur.

Hulle krioel heen en weer,
boor deur my dik skedel.
Hart-in-keel vreesbevange
soek ek na ’n skakel.

Pleit ek na die Lig
om hul te vries in tyd
sodat ek rustig, uiteindelik
my oë kan sluit.

Leave a Reply