Categories
Gedigte

Die Week se Beste Gedigte

As jy soek vir hoop – is jy nou op die regte plek.

Hierdie week se gedigte is vol lig, reën en die herinneringe van ’n tyd toe alles beter was. Hoekom? Dis ’n bewys dat alles weer beter kàn wees.
We’re getting there, folks.
Hang tight.
Verdra.
Lees.
Wees Reën.

Dankie dat ek hierdie mag doen!

Danie

“Onthou tenminste” – Anoniem

Hou vas aan dit wat jy glo
Dat die einde mooi kan wees
Dat ons kan hardloop,
Kaalvoet deur die reën

Asem in my oor
Dalk waai jou wind my storm weg
Dis te koud hier binne
Onthou jy my?

Ek was al hier gewees
Maar vandag is anders
Hoop ek dat my wens waar word
Al weet ek diep binne.

Ons versteur die ewewig
Maar wie gee om…
niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.
Al skree ek hoe hard.

“Sommige aande” – Megan Maartens

sommige aande wanneer dit voel
asof die wêreld my
van alle kante druk
slaap ek met my gordyne oop

iets in hierdie vreemdheid
bied my ‘n mate van rus:
ek sal kyk na die godverlate straat
en luister na die nag se stilte
en soms wanneer ek hard genoeg konsentreer
kan ek my verbeel
ek hoor hoe God
in die stiltes na my roep

“Make love not war” – Kayla May van Tonder

Ek lewe vir ons, die loveless generation
Ek lewe vir love
Ek lewe vir die melkweg om middernag
Ek lewe vir elke praat tot die son op kom gesprek
Sonder soene
Forever soene

Ek lewe vir die straat kids wat bakhand staan en vir net ‘n bietjie menswees vra om homself te onderhou
Ek lewe vir my en vir jou wat by elke stop weg kyk sodat ons ons eie vir onsself kan hou

Ek lewe vir elke liewe gypsy
Vir hom wat die mooi oral raak sien

Ek lewe vir jou en vir my
Want ek is ek en jy is jy en dis okay

Ek lewe vir community en consistency
Ek lewe vir ‘n mooi bestaan
Ek lewe vir die man op die maan

Ek lewe vir my en vir jou

Ek lewe om te strewe na ’n Proverbs 31 vrou
Vir jou
Om die loveless generation se minds te blow
En om ’n veer te voel vir jou
Met jou hande gevou
’n judgemental ou

Ek lewe vir bloed en gebreekte goed
Ek lewe vir mussies en drukkies
Ek lewe vir ’n Blouberg sonsopkoms en ’n gatsak vol kosmos
Ek lewe vir elke klein dorpie
En ek lewe vir die surfer dude wat almal groet

Ek lewe vir elke liewe backpacker
Vir hom wat die mooi oral soek

Ek lewe vir die introvert in die koffie shop
En ek lewe vir Jonkershoek
Ek lewe sodat ek kan skater lag
Ek lewe vir die bosveld en die see en vir elke nuwe dag

Ek lewe vir travellers
Ek lewe vir kids
Ek lewe vir sterre
Ek lewe vir mense met wense
En gebottelde drome

Ek lewe vir chaos en ek lewe vir love.

“Lééf” – Marsy Olivier

Dans saam met my op die musiek van Creedence,

soek saam met my die systraat-skatkis sonder die skares,

Voel saam met my die vrede van die ewigheid in die see

Luister saam met my die eerste en laaste note van Barber se Adagio,

Beleef saam met my die avontuur van Abba Vader se liefde in seer én die seën

Klim saam met my die kontoer se trappe om die dag vir oulaas die groet

Lééf, terwyl die son vir die maan ’n die laaste goue glimlag gee.

“Weeshuis” – Witkat

Ek het aan die lemoenbome beloof
om vir ons ’n weeshuis te bou
tussen the fynbos op Elandskloof
met my rugwerwels en keratientou.
Waar jy die haweloses se hand kan vashou,
saam lag en speel
die matriag, my vrou.
(Maar dis manet wat ek verbeel)
Eintlik is daar reën wat val
met seisoene wat verander
water rol af soos ’n brander
sonder enkele bekommernis
van huis, mens of riviervis.
Als waardevol in die stroom verdrink
rugwerwels weg, in die oseaan gesink.
Baklei is hopeloos
vir my planne
is jy soos die natuur, gevoelloos.

“Ons sal jou nie vergeet” – Keegan Scheepers

365 dae van liefde gaan verby
’n Hele jaar…
Waantoe gaan jy ?

“Weg, weg van jou”
Ek hardloop om my arms om haar te vou,
Maar ek bly stilstaande…
Hoeveel aande
Moet ek die marteling verduur
“EK SOEK JOU HIER!”
Skree ek die stilte binne
Maar net soos jy, verdwyn al my sinne.

Jy’t vir God gaan soek, jy’t dit altyd gesê…
“As dit is wat jy wil hê”
Maar nou, realiteit
Jy’s weg…ek verwyt
Myself.

Ek moes langer vasklou…
Harder probeer…
Vir jou geluister het…
“Dis so seer”

Maar ek hoop; jy’t dit deur die pêrelhekke gemaak; as gevolg van my…maak dit werklik saak ? Ek hoop jou pyn is nou weg
Jy’t lank genoeg geveg
Ek sal ons memories
Vir altyd in ons dogter se hare vleg…

“Wat is ’n skrywer?” – Keegan Scheepers

Dis kwart oor tien, my gedagtes dwaal; die gebeure van die laaste 3 jaar wat aanhoudend deur my kop maal.

Dis middernag; die pen drip ink
Ek voel hoe my hart tot in my voete sink…

Dis net na een
Ek sien hoe my emosies teen die venster vas reën,
En
Ek
Besluit

Vanaand; delf my koue hande tot binne my bors; vanaand ruk ek my eie hart uit, en laat die geïnspireerde bloed soos ’n verwilderde rivier oor die bladsy stroom –

Dis drie uur nou, later as wat ek gedink
Al my gedagtes het in die rivier verdrink.

“Wat doen jy!”
“Met my lewe?”
“Ek weet nie!”

Dis kwart oor drie.
Die nag word lank
Jy lê nog in droomland skuins op die bank –

Weet jy, dat ek gemartel word ?
Deur my eie gedagtes ?
My doolhof denke ?
Ek probeer
Dit skryf…
Maar wat is ’n skrywer, indien nie, ’n melancholie gedrewe hopie omring deur halfgeskrewe bladsye ?

“Pienk wolke” – Anomien

As jou plakkies langs jou lê
En jou glimlag weerkaats
Kry die pienk wolke skaam
Word donker blou en silwer

My go-to

Soos wat ons stap
En verlang na beter dae,
Koffie op die stoep en dans –
Kaalvoet voor die son

Ek verlang na jou
En pienk wolke

“Bladsy vol stof” – Chantel Cloete

Tydmeter te lank getik

Winde oor die kerse geblaas

Inkpot het verdroog

Vingers oor ligskakelaars laat glip

Noodklok nog ’n keer afgegaan

Skoene weer aangetrek

Die son weer gesoen

Die maan een keer te veel sy japon oorgetrek

Badwater nog ’n keer leeg getap

Kussing ’n laaste keer gepof

Spore op die nat teëls nagelaat

Lappies laat gly oor die stof

Skryfblok leeg laat lê

Woorde nooit geskryf

Pen tik-tik-tik op die tafel

Die versreëls wat in my drome rond dryf

“Stille onomwonde gewete” – Chantel Cloete

verwaand volg ek jou lippe
terwyl jy doodstil praat

’n voering op die kantlyn
nog ’n oomblik vergewis

kopseer in die oog
teken ek vir god ’n gedig

vra vergifnis
vir more se drome

my gewete loer
soos die  boekrak vol stof

maar vanaand is dit stil
onder die heilige kombers

#Vinkel

“Die winter is stil” – Neil van der Merwe 

Die winter is stil, aansienlik stiller as wat dit al ooit in my leeftyd was. Mense se lewens het verander, en ek dink die grendeltyd het ons manier van wees kom aanvat. Mense leef, maar dis die tipe vorm van oorleef en nie genot nie. Die winter is stil, maar dit sal ook verbygaan.

“Hemelruim” – Sharné van Ryneveld

Vuuroranje horison versier met steenkool kwashale.
Gekleurde blinkertjies op die aarde woes uitgestrooi.
Die hemelruim pikswart.

Danie en die band sing die wêreld dood.

My oë soek die toekoms buite die ruit.
Warrelwinde sweef onder ons voete deur.
Die donker omsingel ons, Here.
Maar ons is nie bang nie.

Want, glo is al wat ons moet doen.

“Herinnering” – Lidene Kruger 

Op ’n klein berg
vroeg op ’n Sondagoggend
staan ek en asem die vars lug in
so diep dat my hart en my siel dit voel.

My hart en my siel praat
kan nie onthou wanneer laas ek hulle so gehoor praat het nie.
Hulle was vir so lank stil gewees, hartseer gewees, gebreek.

Maar nou,
op ’n klein berg
vroeg op ’n Sondagoggend
voel ek weer lewendig,
voel ek nie meer gebreek nie.
My hart klop weer,
my siel voel weer.

Die plek waarop ek staan bring die herinnering van jou terug.
Ek hoor jou,
ek sien jou,
ek voel jou.

Maar
ek is dankbaar dis net ’n herinnering.
My hart en my siel praat weer
maar net omdat jy ’n herinnering is.
Ek kan weer asemhaal,
maar net omdat jy ’n herinnering is.

Op ’n klein berg
vroeg op ’n Sondag oggend
praat ek, my hart, en my siel
vir die eerste keer in ’n lank tyd met mekaar.
Dankbaar dat jy nou maar net ’n herinnering is.

“Note 180820” – Ruben Lombard

Ek het gedink dit gaan lank vat voor ek weer love songs kan luister en die liefde voel wat uit Danie se pen klim, maar toe bliksem jy my wêreld onderstebo in die heel beste manier moontlik.

Soos die wind saam met die res van die wêreld se probleme op my skouers kom rus, is my hart lig en vol vrede want jy sê dis ons probleme en die son skyn môre weer.

Jou hart dans op ’n passie soortgelyk aan die een in my hart, ’n ritme wat jy kom skep het met jou blou oë, dieselfde blou oë wat al my woorde weg steel.

Jy is die mooiste klop aan my deur en die sagste wind wat so onverwags by my vensters kon inwaai.

Jy het jou kom neerplak op my rusbank, sonder dat ek bewus was van die warm gevoel wat jy saam met jou sou bring.

Ek het betwyfel wat dit is wat my hart soek.
Is ek gereed vir liefde?
Of is enige iemand ooit gereed vir liefde?
Is ek die keer genoeg of weer teveel? Gaan my verlede weer ’n moerse rol speel?
Maar die vrede wat jy op my bestempel, verower elke berg wat voor ons sit.

Vir nou sal ek die oomblik in neem en saam met jou op die stoep sit tot die sterre kom en gaan, tot ek verstaan hoekom God vir jou gesê het, dis ‘n reis saam met my waarop jy moet gaan.

“Kranse en voorportale” – Christos Pietersen

Baie stemme kuier in my voorportaal
Maar daar is mense vyf wat dieper ingekom het en deur my gange wandel waar ons brood eet en wyn drink in agterkamers gevul met verlange en dankbaarheid.
Baie is die stemme in my kop wat roep,
Waar my kranse nie die antwoorde gee wat my ore voor bloei nie.
So ek leer loop van krummel na krummel soos dit uit die Hemel val.

“Vrede” – Christos Pietersen

Die jare se woorde, lê op my lyf soos die slae van ’n sweep. In die skaduwee versteek dit lywe wat wag om te leef.
Hartseer lê op my soos ryp op gras, versteen wag ek dat die Son lank genoeg oor my skyn dat ek kan ontdooi.
Ons is almal so bietjie gefok.
Ek sien jou in my. Ons hande is een.
Ons almal probeer om by die huis te kom.
Jy soos ek soek Vrede.
Jy soos ek word belemmer deur rede.
As ek net die gordyn van hierdie oomblik kan skeur en die Ewigheid kan gryp sodat dit die stank in my verdryf.
Sodat hierdie soutpilaar kan disintegreer
Dat ek die Vrede in my vind.
Kyk na my, O Heer, sien my in al my swart.
Beskou my naakte self, sonder blaar of bokvel.

“Die eindeloosheid” – Béja Goedhart

Soms wonder ek of jy met my wil praat
Die 3 uur oggend gesprekke
Nog in ’n eindelose realiteit kan wees
Waar die middernag golwe my siel bevat
Na die stroom wat ek jou gesien het
Die rivier wat oorvol is met die liefde van twee
Net hier waar dit koud is op die Augustus bloeisels
Verte punt lê so naby maar ver
’n Bewondering of alles kan ingee tot jou
en dit kan
Sodra ons Spoegwolf weer sien optree en jy my omhuls met jou geluk
Die gemoed van môre weer sak tot in die laaste van ons dae saam
Ek wil traan vir die uitwerk
Ek wil smeek vir nog ’n dag
Dis hier waar die koue my warm liefde vir jou, soos Augustus bloeisels nooit van vergeet word nie.

“Die dink masjien” – Niel Pretorius

Ek kyk lank en diep na hoe my ratte draai.
Waar ek haak, waar ek skier, waar die denke saai.
Wonder laat my op kyk na verskietende wense.
Pragtig die kanse en drome wat in ‘n oogknip verdwyn.

Jy plant jouself en jy skiet jou eie wortels.
Jy drink van die water wat byderhand is.
Groei jongeling en word lank, word sterk, word groot.
Beskerm jou vriendelike eekhoring gesin, want julle was een
en nou is julle baie.

Die warrel wind waai alles woes, alles weg.
Die stof hang eers dik in die lug en dan…
dan breek die sonstrale deur en jy verstaan die gedraai.
Die ratte is geolie. Die masjien is uniek. Dit draai.

“ek glo” – Simone Ras (@geelskrif) 

ek is ’n blommekind.
ek glo dat liefde ’n beautiful
liedjie is en ek glo dat
ou Afrikaanse woorde soos
klopdisselboom, piekfyn en jolig
die mooiste beskrywings kan maak.
ek glo in musiek wat nog
op plate gespeel word en
ek glo in die groot, oop
erwe waar ons ouers in
groot geword het.
ek glo jy kan inspirasie kry
deur saggies te dans met iemand
en ek glo die beste gedigte
is eenvoudig en eerlik
en het nie altyd metafore in nie.
ek glo die lewe is mooi.
ek glo dat ek nie altyd meer rede
nodig het om van iets te hou
wanneer ek weet dat dit
mooi
is nie.

“EN” – Anziré Coetzee

Gee jy nog steeds so om oor wat mense dink?
Ek het gaan rinkink in die bodorp terwyl jy gedink het aan trou
En as daai liedjie speel;
is ek lief vir jou soos Danie, Marguerite
En die spyt reën uit oor my.

Ek voel-voel met my oë toe; die gedigte wat ek nog oor jou gaan skryf
en elke hemisfeer plat loop.
Ek deel nou die enkelbed in my kamer maar met jou swart trui
en inkleurprentjies
en soos jy weg loop en terugkyk, het ek besef

ek kan nie meer jou onthou nie.

“Te vroeg om te weet” – Jeané Le Roux

Vir weke was my hart
net skerwe wat nie
aan mekaar wou klou nie

maar jy
jy met jou sarkastiese opmerking
het onwetend die gom geword
wat my hart aan mekaar sit

dis nog net ’n paar weke
en dalk is ek mal
dalk breek ek weer my eie hart

maar so lank as wat die lewe dit toelaat
wil ek dit saam jou leef

“Asem met die reën” – Jeané Le Roux

Die druppels klou aan die kragdrade wat
eensame straatligte geselskap hou

straatligte wat op die nat teer
weerkaats

die water klou aan my
het in gekom deur die dun
grys t-hemp

dit reën al hoe harder
en dit voel soos verligting

want vir die eerste keer in weke
kan ek asem haal sonder om my longe te sny
met die skerwe van my hart

’n Gedig deur Krizel Langenhoven

Onbekende wapens
Is jy ook verlore, tussen gewapende Patriotisme
Liefde wat smelt en ysberge vorm in vuurwarm harte is ook patriotisme net ligter gestel
Of wag dit is swaarder
Want jy sterf van liefde wat koud geraak het
So koud dat die klein netwerke vries en mitologie stories vertel van monsters wat ontmasker word in mense
Wat is die regte wapens .
Gewere of liefde? Die beskermde wette teen ondergrondse gevoelens, of meer soos volksmoord op die harte van nagejaagde generasies
Dis nou ons
Wat beheer word deur emosionele swaarde wat reg deur die vlies van jonk wees steek
Floreer asseblief op liefde
Wag
Mag ons ooit floreer of is dit ook ’n vorm van wan gedrag in die boeke van nasionalisme

“healing” – Mijaune Smith

onverskrokkenheid
dryf soos ’n onoplosbare pil
verby my besluite
kniediep giet my trane
en water die plante
dit skiet totdat my wonde sweer
en my stem breek

ek kyk op
die plafon verwelkom grumpy old men
en die ketel langs my skree ’n toon van angs

sy praat van hartseer, motorfiets adventures en kla oor moerse sitkamerstel uitgawes.

soos wat dit moet wees

hel, maar ons?

lag-lag begrawe ons seer
en smeer die klei weer op
totdat die kurk skiet

mag ons leer om te huil
onthou om te vra
en aanhou vergewe.

feeling is healing
crying isn’t dying

Joy is coming.

“Verlange” – Derrick tolken

Jou skaduwee spook by my
Jou reuk nog in my neus
Die kussings van my hart gekneus
Jy het saam hom weg gery
Ek staar uit op die nat veld
Die waterdruppels op die venster hou resies met my trane
In my brein is dit net herinneringe en geweld
Ons storie speel tot middernag op my snare
Ons bed is leeg sonder jou
My nek was al gepaard met ’n tou
Gaan ons nou verdwyn?
Daar waar jy lê hoop ek jy voel my syn
Skree; slaan; skop
N laag van my hart is afgedop
Ek voel jou in my bloed
Ek voel jou in my are
Maar ons storie bly leef op my guitar se snare

“Ek mis die kaggel in die Paarl” – Stefan H Nel

Tap my droër as ’n woestynklip.
Vang my trane in houer wat seël
Los dit vry op ’n vetplant, dan weet ek daar is nog oor van my.
Gee my son
Gee my om
Ek is net liefde omring met dorings.
Dit is al wat ek ooit sal wees
Ek stuur my boodskap in die ooste wind
My boodskap van liefde in die wind wat almal wil vermy
Alhoewel my hart gevries is, is my liefde nie so koud nie

My hart verlang na die hitte van ’n kaggel in die Paarl. Rooiwyn en daai donner met die bakore wat sy dogter vir my leen.

Vandag dra sy my kind.
Die een wat ’n boodskap dra van liefde!
Ja verder as die ooste van die weste wind.
Mag haar boodskap swaar wees op almal se harte.

“Blinker op my skouer” – C. vdM

Al wou ek dit keer
Al wou ek elke keer onthou
Is daar net iets aan jou
Stukkies blinkers, nou nog aan my hart vasklou

Ek roep na jou in my slaap
En ek droom van hoe ons in die son sit
Sit en gesels
En ek vir jou se dat dit sin maak

Kom uit die kamer uit met daai glimlag van jou
Wêrelde breek,  harte verslae
Ek wou vir jou skree
Toe jy vra

Vir jou sê, glad nie te laat nie
Vir alles behalwe tyd is ek nie kwaad nie

En as een van daai weke weer eindig
hoor ek jou steeds in die gange lag
Van somerstrale tot wintersbriesies sag

Ek wonder gereeld of dit werklik so is
Maar dan sien ek dit in daai groen
Jy, jy wat skryf van ʼn seisoen

Maar sal ek jou nog ken
Ken, eendag eendag
die tydmonster kan wen

Van jou, dagdroom, nagdroom, lagdroom
die hemel alleen die weet
Of dit beter sal wees
As ek van jou vergeet

en dan…

Sien ek daai blinker op my skouer
Al raak dit ʼn bietjie kouer, ouer
Maak nie saak hoe ontvou….
Ek dink ek sal jou verewig onthou

“Die Kritieke Komponis” – Harry

Die reën buite drup saggies op my hart
Dit voel soos sneeu terwyl dit smelt in jou trane
Daar was ’n yswind van verlange en smart
wat oor die water van jou liefde gewaai het tot in bane
van ewigheid eensaam en apart

As die musiek weerklink in die kamers van binne
en met eens die vertrek ophelder uit die seer
van oortollige genade en onsekere sinne
Die klavier note is kwaad asof dit iets wil blameer

Al voel dit of geen huis ooit weer warm sal hou
en geen oë joune sal wees
Is dit duidelik uit die ritme van die gees
dat my hart se golwe vir eers kalm sal moet toevou
in ’n poskaart, ek sal stuur na ’n ver en vreemde land
Waar dit sneeu op die berge van my kennis en waar hulle dans op my vyande se sand
Waar die hemele oopmaak en Jesus self kom kuier op ’n daaglikse gedig
Waar die note sal dans soos engele uit die woorde van ’n nuwe gesig

Die ritme is vinniger as vroeër
En met hoop en geloof is daar ’n nuwe anker bekoor
Op reis na die verre vreemde land sal ek gaan
al loop ek deur  donker skadu sonder my liefste maan
sal vrees my nie beroof van my groter geloof
die note weerklink sag in my brein
bitterheid wat kop wys in my syn
tot in die hel is waar die wortels rus en stap
met die viool en engelekoor sal met prys dit vertrap

ek draai om en vir ’n laaste keer bekyk ek die skoonste skoon
Dalk het Judas weens die mooi van ’n siel Jesus verloën
die sneeu op my hart is bibber en dik
my geheue wil my kort-kort laat verstik

Wolke boelie die son so ook die drom die bas
my erfreg sal ek gee vir bietjie hitte al is die vuur nog vars

Die koue val om my soos ’n swaar kombers en die eens eindelose magdom en misterie van die see
Word verstaan in die klanke en kore mooi maar verleë
Op oog af lyk dit na ’n donker hellevaart
In ’n houtkruis darem die Hemel se padkaart

My voete is in pyn en my hande brand my oë traan van die binnereën
Dis warm daar ver kyk ek deur my venster binne die bid van seën
Die hoofstuk is kis
En ek rus in geloof dat die groter boek is bloot die werk van ‘n kritieke Komponis

“Volwasse verjonging II” – FG Buitendag

Daar waar jy bly lê
bedek met vyeblare
Die tuin se gras
steek verby jou hare
Jy is waar kode woorde die enigste
nodige veilige woorde was
Jou tabak is nog groot
daar waar jy
nog lê op die gras
Hierdie mense sal jou nooit ken nie

“Batman en Joker” – Christos Pietersen

Die lug is dik en swaar en soos ’n byl kap dit na my.
Ek splinter in twee maar trek bloed uit jou eelte.
Die donker in my is sag soos lig en hang om my soos winter mis.
Ek sit stil.
En probeer net luister na die wasemwoorde wat om my val soos albasters uit ‘n blikdrom.
Jy sal my sien kom met my rooi terwyl ek lag en lag en lag.
Jy sal my teen jou voel as ek die laaste keer oor jou uitspoel.
Party dae is ek Batman.
Meer dae is ek die Joker.

Leave a Reply