Categories
Gedigte

Die week se beste gedigte

Marguerite het hierdie week elke dag gedigte gehoor wat ek nie geskryf het nie. Om op ’n Sondagaand ’n laaste keer deur al die beste gedigte van die week te gaan is baie, baie beter as Carte Blanche. Dankie vir almal wat stuur. Dankie vir kwaliteit en moeite. Dit bly ’n voorreg om hierdie te mag doen.
Danie

“Winter Kaneel” – Chantel Cloete

Groet die sagte somer
Kussing ingesluk dromer

Dreigende seisoen
Word winters groen

Dansend reikhals
Terwyl die ys omhels

Doodsheid teenwoordig
Koue oorbodig

Kaneel omhelsde reuk
Wat die somer verlange weg steek

#Vinkel

“om met kinderoë te sien” – Simone Ras

Die ligte wat in die lug vladder
en reflekteer teen die waters wat
uit sprokieverhale kom,
herinner my aan die manier
hoe my gesig verhelder het
elke keer wat dit Kersfees
in Barnard straat was.
Onder die veilige voue van my ouers,
het ons geloop en bewonder;
die blou in my oë het daardie aande
bietjies van die ligte vasgevang.
Wanneer ek na die stadsligte staar
kan ek die sprankel van opgewondheid
binne die kind in my voel opbruis.
Van daar af, laat ek my kinderoë
toe om hierdie wêreld te sien
soos dit werklik gesien moet word.
Vol kleure, ligte, kuns, idees en wonderwerke.
Vol van die sprokiesverhale se ligte.
Vol van omgee, hoop en liefde.
Ek dra dit saam met my en straal dit uit
in die wêreld wat vergeet het
hoe om lig raak te sien.
(gaan volg hierdie ongelooflike digter by @geelskrif)

“19” – Ruan van der Westhuizen

Soos blits
het hy die wêreld verorber.
’n Vloed
wat die samelewing verdrink het.
19 het ons lewens
tot stilstand gebring.
Mensdom
is op sy knieë gedwing.

Wie sou kon dink
dat ’n onskuldige hoes
of ’n eksotiese maaltyd
ons lewens sou inperk?
Hy is al wat mense sien.
19 beheer ons.
Maar tog kies ek
om ons Redder te sien.
Onse Vader:
Ek mis my nooi.
My vriende se gesigte
is met piksels vervang.
Gee ons vandag
ons daaglikse HOOP
om sáám
die LIG te sien.

19 is sterk.
Hy blyk ongenaakbaar.
Maar tog bly U hand
groter as ’n 2-syfer nommer.

– Geïnspireer deur Habakuk 3:17-19.

“wroeg (depressie)” – Ruan van der Westhuizen

Ek sien haar wroeg.
Wroeg.
Teen die gety
wat haar onderdruk;
wat haar verdrink.

Sy siel is verlam.
Verlam
deur die eindelose verwagtinge;
die perfekte idee van menswees.
Die leuen van ons wêreld.

Hoe kan dit wees?

Haar soektog na lig
word deur ‘n bitter smaak vermom.
Sy soektog na hoop
word met die silhoeët
van ’n CZ vervang.

Hoe kan dit wees?

My liewe mens:
Daar is meer.
Meer.

Meer as die donker put
wat jou lig probeer vermink.
Meer as die gevoel
van wanhoop en straf.
Meer as die sorge
wat jou geluk versmoor.
Meer as die seer
wat jou hart omvou.

Donker tye is onvermydelik.
Maar my liewe mens:
weet bo dit alles
Dat die Here met jou is.

As jy terugkyk na jou spore
En slegs een ry sien.
Wéét
Dat Hy jou gedra het.

Never surrender to fear.
Always surrender to God.

Alleen was jy nog nooit.
Sy kind was jy nog altyd.

“Nostalgies” – Monet van Deventer

Nostalgies
Abnormaal
Opgewonde

Die son kry sy sin.

Nostalgies
Abnormaal
Opgewonde

Die son kon vanoggend van voor af begin.

Nostalgies
Abnormaal
Opgewonde

Ek kan gister herwin.
Nostalgies
Abnormaal
Opgewonde

Nog ’n nuwe dag is aan my gegun.

“Die Harsteer” – Monet van Deventer

Alles en niemand.
Niks en iemand.
Mamon en ’n kanon.
Kaal in die son.
Beroemd vir vanaand.
Liefde elke aand.
Paleis met ’n vuis.
Siel as ’n huis.
Diamante elke dag.
’n man wat jou laat lag.
Kar waarna almal wil kyk.
Lewe wat met niemand s’n kan vergelyk.

En die hartseer
Keuse een kies van hulle meer.

’n Gedig deur Armand Barnard, geskryf vir sy pa se 50ste verjaarsdag

Pappa,
Ek het hierdie geskryf, sodat jy dit oor 50 jaar weer kan lees.

Onthou jy toe Top Gear nog aan was
toe jy nog krieket balle kon gooi op die gras?
Sal jy ook saam my deur die see kom ry?
Soos Jeremy, Hammond en May

ek sal onthou,
dat jy altyd die Top Gun sal wees
en nog steeds jou ure in die lug sal opgee
vir ’n blonde vrou wat Durban se see kon keer

ek sal onthou,
hoe jy altyd vas op ’n kansel sal staan
en in Paarl se oë nooit sal vergaan
hoe jy met jou groot hande,
almal in die kerk se hoeke met jou woorde druk
en in Board meetings aan jou gekoude naels verstik

ek sal onthou,
hoe jy ons name deur die huis skreeu
volgens ons, is jy Simson,
en die lewe is jou leeu

(snaaks dat ’n Delia(h) jou hare geknip het né?)

ek sal onthou,
dat jou woord altyd jou wet was
dat jou persoonlikheid jou net was
waarin jy mense soos butterflies vang
en ons leer om handdoeke in die badkamer
op te hang

ek sal onthou,
hoe jy my geleer het:

om nagmerries bang te maak
om te praat of skree as iets jou pla
om te begin en te werk tot God sê klaar
om altyd lief te wees vir malva en vla
om mense, maak nie saak wat nie, op jou skouers oor die laerskool krieket pitch te dra

ek sal onthou,
hoe jy smul aan vrugte, soos papaya en mango
hoe jy altyd sal opstaan na ’n harde hou
soos veral as jy uit ons avo boom val
hoe jy altyd ’n mentaliteit het van nie “ek kan” nie, maar “ek sal”

Pappa, jys ’n legend.
I’ll cherish your memory until my end.

“Chaos” – Revan Schmidt

Ons staan op met chaos in ons harte,
Ons sukkel om sin te maak van wat regtig aangaan in ons lewens.
Almal van ons streef na perfeksie
Maar hoekom is dit nodig?
Ons word geleer
Jy kort beheer van lewe
en sodra jy dit verloor
Is jy swak?
Ons sit hier en is te bang om vir ons naaste te skree Ek is lief vir jou
Want ons sukkel om vir ons self lief te wees
Ons sit in ’n gekraakte spieël wêreld
Waar almal dink hulle ervaar 7 jaar se ongeluk
Maar eintlik sit jy met jou oë toe
Want jy is bang om in die donker te loop
Jy sien ons is bang vir die donker
Nie omdat ons nie kan sien nie
Maar omdat ons nie vertroue het nie
Is dit nie maar so met ons lewens ook nie?
Maar tog as jy verby die chaos kyk
Kan jy sien dat iemand eintlik lief is vir jou
Maar hoe kan jy?
Want ons is nie eers lief vir ons self nie
Maar sien die antwoord is eenvoudig
Die chaos in jou hart
Is wat jy vir lief moet raak

“Vir die Eensaam Harte” – Revan Schmidt

Kom ons staan stil,
Net vir ʼn sekonde.
En dink terug na die dae
Toe ons nie bang was om verlief te raak nie
Maar sien al wat ons nou het om te wys is hartseer en wonde
Ja, ek skryf vir al die eensaam harte
Wat sukkel om te verstaan
Waar het ons verkeerd gegaan?
Waar het ons op gehou ons liefdes lied speel?
Waar is die dae toe ons nog in harmonie saam kon leef?
Jy weet met wie ek praat
Ek praat met jou
Dié een met die gebroke smile en hart
Die een wat te bang is om oop te maak
Maar kom hier vir ‘n sekonde
En wys my jou wonde kind
Kom hier laat ek dit stil maak in die huis
Laat die stemme van leuens uit jou kop kan verdwyn
Ek weet ek dis moeilik om op te staan
Maar staan
Staan, skree jou naam
Want my kind, dis tyd om huis toe te gaan

“Angoisse” – Nastasha van Rensburg 

Ek het gister deur my gedagtes gepeuter en probeer beheer neem oor daardie helder ‘angoisse’ wat deur die alledaagse lewe ’n illusie aanneem van fatalisme,
’n huiwering van “wat as?”
wat ek moet versmoor voordat dit die bohand kry, maar dan sluimer daardie vertroosting hedonisme nader met die wynkelkie van jou gesig en die sigaretteug van jou mond,
hoe kan ek die waarheid in woorde verkondig, wanneer my eie verstand
en hart oneerlik optree teenoor mekaar? Die ossileringsverhouding van daardie kosbare teerheid van verlange en daardie eerlike realisme, hoe versoen ek die twee sonder om sélf die versvorm van ’n leuen aan te neem?

“Groeipyne” – Nastasha van Rensburg 

Wanneer jou dae met droomverdowings gevul word met gedagtedwaal oomblikke en terugdwaal herinneringe, onthou dat hierdie vreemde, eensame en lydsame lewe soms dubbel die krag gaan vereis om te oorleef, maar dat hierdie dae van groeipyne jou sal laat opwek en sien; dat mens kan bot en bloei op dieselfde tyd.

“Onheilige reinigin” – Nastasha van Rensburg 

Vul my met jou heerlike irrasionaliteit, met jou sintuiglike bewonderinge
en jou speelse beloftes.
Lieflike wesen met jou
geheimse glimlag en jou vraende oë, kom vul my op met jou
kosbare ongedurigheid?
Sodat ek en jy, in óns bymekaarwees ongebonde aan haas of afspraak,
met haastige rustelose liggame
saam rustigheid kan vind.
Openbaar jouself aan my,
sodat jou vleeslike lesing
my gees onheilig kan bad.

“si(ek)” – Henry Tromp

my lief ek is siek.
ek dog ek se jou maar
ek is siekverlief op jou

met elke keer wat ek jou aanskou styg my koors
met elke klein gedagte oor jou gee my organe in

jy is kanker.

tog hou ek aan baklei en worstel
met slapelose nagte en wilskrag wat nie meer bestaan nie
sal ek vashou aan die gedagte om deur te trek
sal ek vashou en hoop om jou verwoesting te oorkom

maar ek is bang my lief
vir dit wat nog kan gebeur
wat as jou stormwolke kom,
en ek staan sonder ‘n sambreel?

maar vir nou is dit verby

my gees is rou geslaan aan jou
my lyf het niks meer oor nie
jyt elke sel, elke stukkie weefsel afgebreek
en ek is aan die einde van my verhaal

jy’t my beste dae kom steel

“sproetjies” – Henry Tromp

ek onthou hoe jy my altyd wakker gemaak het
onder die kombers
met jou yskoue hande teen my warm lyf
dit was hoe ons avonture begin het
agter elke koue vinger was daar ’n plan

met koffie en laataand geselsies het ons klaargekom
eenvoudig
want dit was hoe ons liefde gebou was,
op mekaar.

ek mis hoe jy net vir my kon sing
as jy verby jou skaamte loer en net laat gaan het
op reënerige aande het jy ons huisie warm gemaak met jou lalabai
droomland toe met ons

elke liriek wat ek neerskryf vat my terug
dit vat my terug na ons, na hoe dit was
jou teenwoordigheid was my kaggel
en ek het skuiling by jou gevind in die koue

dit breek my
hoe ek rustig kon raak op jou bors
met jou hartklop wat my kalmeer het
hoe jy my hand kon vashou en my beheer

hoe jou koue hande my warmste plek was

“Verdrink” – Ruan Marius Schoeman

ek het wakker geword
aan die regte kant van die bed
vandag

vir die eerste keer in ‘n leeftyd
kompleet opgestaan

was dit jy, my lief?

het jy vir my jou sonskyn gegee?

daardie glimlag
wat vir al daardie jare tergend
oor die velde van my bestaan
sing, dans, lag, lewe?

sonskyn wat my warm hou
en wat vir my jou skouer gee
as jy treur?

jou hart, van egte goud

wat jou alles
jou liefde, siel, geloof
vir ‘n skoenlapper sal leen?

dit was jy.

hoe dan anders?

ek het nie die hoogtes bereik
waarin jy altyd vir my geglo het nie

maar ek het vir jou

en ek sal,
vir ’n ewigheid en langer,
hier, op my wolk
sit en wag

tot jy my hier ontmoet
en ek weer in die helder
van jou oë se blou
kan verdrink

Droomverlore – Emile Vorster

“Immaneul, God was met ons”
sing Danie terwyl hy voor jou tafel staan
en ek wonder of jy breek soos ek doen
oor die woord “was”.

Ek wonder of jy verlang soos ek doen
as jy kyk na die foto’s.
Ek wonder of jy pyn soos ek doen
as jy luister na die songs.

Ek wonder of jy lag-huil soos ek doen
as jy dink aan ons memories
en hoekom Danie juis oor ons gesing het
en hoekom God nie meer met ons ‘is’ nie

Was die verhouding net tydelik
vir ons deur die engele gestuur?
Het God jou net aan my geleen?
En was dit God
wat ons verhouding verlaat het,
Of net jou van my af teruggevat het?

Ek hoop dat ek jou eendag weer sien
as ek leer hoe om jou beter lief te hê
en God jou weer aan my toevertrou
Wanneer ek jou liefde bietjie meer verdien
As nou.

Sou ek ooit die voorreg kan hê
om jou voor te stel met my van?
Of was ons sprokie bestem om te eindig?
En hoe pas dit in by God se groter plan?

Ek was maar altyd ’n dromer, het jy gesê
en terwyl jy jouself vind, die nuwe jy,
geanker en nuutgebore,
Bly ek soek vir myself in jou,
Met my kop in die wolke
Droomverlore.

“Wit en blou” – C.J Swanepoel

Daar is ’n hemel van wit en blou,
maar hoekom voel dit
dat jy die enigste een is
waaraan my hart sal vas klou.

Jou oë is vlam van blou
met ’n winter wit glimlag
en ’n somerson-vel.
Die prag van hemel bo hel.

Jou stem dryf my verder
as jou woorde se betekenis,
en jou voetstappe lei my
verby waar ek myself ooit sal vind.

Jy is beautiful.
Jy is ’n hemel van wit en blou.
Want dit is jy, dit is jou,
waaraan my hart vir altyd sal vas klou.

“Geesverduistering” – Kyle Macdonald

Die branders breek harder
Stilte vergaan
Die stemme tuimel rondom my
Dis my sonde se woorde

’n Soutsmaak proe-proe aan my bo-lip
Die trane begin vloei

My Liewe Heer, het ek U te lank vergeet?

Onreine gedagtes wals rondom my
Die musiek omhels my met treur
Dis die Oorwinningslied se wysie
Vasgetorring
In onafwendbare melankolie

Want ek weet ek moet Hom vind

Die storm gryp my vas
Ek moet ontsnap
Wegkom van my gedagtes

Liewe Heer, help!

Op my laaste verswelg my gedagtes my

Ten einde besef ek dat ek kan ophou wik
Want net my God sal beskik

“Lirieke troos” – Anic Redelinghuys

Ek baklei met musiek.
Ek was nie veronderstel om nou te voel nie,
daai ou doos uit die stoor te gaan haal nie.
Die musiek breek my alweer,
vir die tweede keer.
Ek kon sweer
Ek het jou weg gepak,
op die heel  boonste rak
Ek wou jou hou,
buite my bereik.

Die musiek breek my al weer,
vir die tweede keer.
Ek het daai doos gaan haal,
jy voel ‘n veer,
jy hou nagmaal
met my vlees en bloed,
maar Spoegwolf gee vir my moed;
hulle sê God is geel
en ek dink dit maak sin,
want dis hoe die dag begin
en ek kyk nog altyd op
na ’n verblindende lig
wat vir my die pad sal wys.
As ek Hom kon sien,
sou dit tel as geloof?
Ek rou,
ek vertrou.
Klim uit daai doos,
God en musiek sal my troos.

“Wat drink Jesus? “ – Anic Redelinghuys

Kan ek by Jou kom sit?
Ek is moeg gebid
en ek wens ek en my broer
pas nog op ons pa se skoot,
want ek huil nog soms
oor ma se dood.
Ek soek die wolk se goue rand,
en jou stem in ’n bos wat brand.
Kan ek myself kom warm maak
by Jou vuur?
Ek bring die bier.
Dalk drink ons te veel,
ek is seker God wil ook, soms,
val in die goue-geel
van vergeet en vernuf.
Wat drink Jesus?
Whiskey of sonde?
Ek bring altwee;
vir die wis en die onwis.

“Jare” – Jusha
Ek het gesê ek sal bly
So ek sal
Ek het belowe om jou lief te hê
So ek sal
Soos die getye konstant met die maan dans
So sal ek jou ronddraai
Om en om
Tot eendag toe
Wanneer ons kinders sal skaam maak
Met ons valstand Oupa-Ouma liefde
Maar kom ek wag nie
Laat ek jou nou liefhê
Meer en meer elke dag
“Eendag” – Jusha
Om mens te wees is om lief te hê
Wat was ek dan?
Jy’t my onderdrukte hart bevry
Soos ’n trouduif
My laat huil
My laat lag
Jy’s my eendag kaggelvuur liefde
Met kinders
Ons vertel lank gelede sprokiesverhale
Volmaakte liefde
Maar tog minder as ons s’n
Stiller
En tog harder
Soos branders
Almagtig
Wit en blou
So lief is ek vir jou

’n Gedig deur Martin Zaayman

Hier lê ek
3 uur die oggend
Met ’n swaar onseker hart
Want sonder jou
Is ek oorgelaat aan die wêreld se smart
Ek weet jy se jou hart is myne
Maar liefie lees tussen die lyne
Ek kort jou woorde
Jou siels-akoorde
Wat as jy ver weg gaan
Gaan ons steeds wees
In die selfde wentelbaan
Oor die toekoms weet ek min
Maar sonder jou is dit onsin
Ek het jou nodig aan my sy
Maar die “wat as” val my by
Is ek werklik goed genoeg
Die vraag wat diep in my hart ploeg
Maak tog net my bekommernis stil
My hart wil gil
Want jy kan nie begryp
Wat ek nou voel
Elke “eks lief vir jou”
Opreg en uit my hart bedoel

“Dit het lanklaas so gevoel” – N. van Tonder

Dit het lanklaas so gevoel
só wild,
maar
tog, koel
glase wat my sien:
as ’n geleentheid?
as ’n stapelvoedsel?
iemand wat, kan vol-maak,
maar
eintlik wil ek net weer vlieg,
die berge aanskou van bó.
Sweef.
Asem skep terwyl ek wind skep
daar is dit ‘n ander  tipe vol:
koel
Ek het lanklaas só gevoel.

“Corona kinders” – Nelaine de Wet

met trane in jou oë
loer jy by die venster uit
kinderstemme is weg
die pad is stil

Die swaai waai in die park
verlate is ons land
Corona het sommiges op hulle knieë
ander dankbaar vir die koppie tee

ʼn huis vol blokkies gestrooi
Netflix se shows raak yl gesaai
onbekende grond, ongekende vrees
as jy so voel
hoe voel daardie kinder-lyfie se gees?

kinders ervaar die lewe
deur sien, ruik, voel, proe en hoor
maar geen toelating om te speel
hoe gaan daai kinder-lyfie weer heel?

“Die hart van my” – Heino Louwrens

Die halwe man
Leeg en alleen wandel hy
Dag na dag nag na nag
Soekend na jou
Geen hand het nog ooit
So perfek soos joune gepas nie
Sy hart huil jou naam uit
Oë dwalend op soek na jou
Die halwe man se eindelose soek tog

“Friendzone” – Heino Louwrens

Ek is soos ’n broerder vir jou;
altyd gereed met raad.
Altyd reg om op te tree,
’n staatmaker inderdaad.

Die beskermer van jou hart
maar nooit ’n hartedief.
Ons vriendskap beteken altyd te veel,
maar my hart het jou nog lief.

Ek was nog altyd daar vir jou,
maar vergeefs nooit
waarna jy voortdurend soek.

Ons vriendskap sal vir ewig hou
ten koste van ‘n liefde
nooitgewaagd.

Eendag, dalk,
sal ek meer
as net ’n broer
vir jou wees.

“Klein Europa” – Die Meermin

Ik zeg het eerlijk zoals onze mense dat zullen doen 

de kerken staan koud en de mensen lopen in en uit
en kijken hoe oud 

grote gekleurde kaders met verhalen die niemand
anders kent 

hoe groter de kerk
hoe kleiner de gelovigen 

veel bekendes is er ook; 

Westminister Abbey, Notre-Dame, St. Stephen Basilica,St. Vitus en meer 

Maar die enigste en grootste bekende is onbekend 

Dis Hy wat sy warm lig skyn
in die hoek van die brood en wyn 

Hy,
en Hy alleen 

dis jammer dat die lig uitgedof word deur n aardse ding 

de kerk was ineens een huis,
maar nu een historiche gebouw 

was Hy dan ook net ’n man wat op sy eie aarde gewandel het? 

“Onder bewustheid” – Mianette van Der Merwe

Waarom treiter jy my
Wanneer ek na antwoorde gryp
In hierdie leë hart ?

Hoekom sit ek vas tussen jou
En wat hý uit die stad vir my kan sing?
Sal jy my laat gaan
As hulle vir jou geluk bring?

Hoe kry jy dit dan so blou?
My gedagtes
En daardie oë van jou.

Ja my lief, my antwoorde hieroor is vol vrae
My goedkoop pen sonder ink
Maar wanneer jy my antwoord, sê sommer net wat jy dink.

Vat my terug na gister
Want my lief ek is bang
Ek is bang

“Laventelvelde” – Simone Vorster

vervreemd en ontneem
van goedkoop spontaniteit
is ek oorgelaat
aan my fragranced kers se
afsterwende asem
om laventelvelde in my gedagtes
te plant;
om framboos-skakerings
op die skare se wange te
verf –

moontlik angsbevange dat die
son gaan verslaap
in hulle oë more-oggend
en die donker hul laaste
hande vol hoop
gaan insluk om sy
hongerpyne te stil

Dis gedeeltelik bewolk
in die sonkamer
en pandemie posters
het gelui soos ’n foon
voor slegte tyding –
ek verstik en struikel
soos ’n amateur
oor die konsep van
lewe uitstel –

dit eggo
verwaarloosde verhoudings,
geselskap met vervaldatums,
akoestiese Sondag-klanke
wat om die hoeke van my huis
huil

en vernederd oor my eens-belowende
vlugbesonderhede en koffie-afsprake
staan ek, asof die eerste keer
regop na die kruip

gestroop
van myself
terwyl die laventelkers
in my sonkamer
brand

“Swaartekrag” – Erika Grobler

Soms wens ek ek kon skryf
soos Danie du Toit,
en my hart so roekeloos
tussen woorde rond gooi.

Soms word ek benoud
wanneer ek poetry lees.
Dit voel amper soos vryval,
maar jy’s hoogtevrees.

Gedigte is kuns.
Gedigte is broos.

“Kuns is edel,
kuns is boos,
kuns is nogtans skadeloos.
Kind van sonde,
kind van troos,
kind van liefde uit die oude doos.”

Leave a Reply