Categories
Gedigte

Die week se beste gedigte

Baie van hierdie week se beste gedigte het toevallig beelde gebring van die reën. Vanoggend, toe ek ’n laaste keer deur my gunsteling skrywers gegaan het, was daar ’n storm buite.
Dit bly ’n voorreg om so baie van ons land se nuwe digters se werk te mag lees. Ek is dankbaar om dit te mag doen.
Geniet die reën!
Danie

“Nuwe hoop” – Christopher Stoffel Forster

Ons het gepraat oor liefde
en dorpies wat ons langs die pad gevind het,
van kerke en
God se kinders en hul snaakse maniere,
hoe ons wou reis van die
wildtuin tot by die see
terwyl ons gin drink uit koppies eintlik gemaak vir tee.
Ons het gepraat van kuns,
van Pollock na Picaso,
van stories vanuit die verlede
oor vorige liefdes,
oor dae waar die sonskyn
verander het in maanlig
Ons het gepraat oor honde
en duisende ander drome saam,
drome van avonture
en reënerige pajama Sondae,
oor hoe duiwe kan vlieg
het ons dae lank oor gebieg
Maar belangrikste van alles,
het ons gepraat oor liefde.

“Raas, Reën. Raas.” – Mijaune Smith

ek het ’n paar dae terug
in die veld gaan staan
daar by ons eerste en laaste
waar die groen diep sny
en nog in my borskas bly
jy was die superhero-type
the matrix of my kryptonite?
die reën val weer
die dak ons shield
teen never ending bullets
roosterbrood en mentos
ag fok, ek het ’n paar laat val
krap in die cubbyhole,
terwyl ek skelm nader skuif
“sit jou glimlag teen myne. dis my beursiefoto”

het jy die zebra’s sien wei?
ek probeer onthou
het ek jou gesê?
die golfkar hou aan ry ná jou en my

die sement is nou plat
ja, dis selfs meer ewe, nat
daar’s onkruid tog skoonheid
sien jy die balans?

ek probeer onthou
het ek dit dan gevra vir jou?

kyk jy action movies
met haar asem op jou hart
is jou neus teen hare
en sy ingevleg aan jou kant?

dis eintlik straightforward

no shield, just bullet drops
every inch of rain
makes me feel
every inch of pain.

ek kan onthou,

ja, ons albei weet
maar my lief, kom ons kies
om net van als te vergeet.

“Vlugtig” – Marolee Smith

Emosies, seer en rou. Altyd
Ons kies hoe ons daarmee deal
Óf wegvee onder die mat
herspeel
ontbloot
intens
opreg
Hoe ook al, ons kies
Songs, gedigte, stories trek jou aan
beklemtoon elke liewe woord
van hoe jy voel, in die nou
Asof dit vir jou bedoel was, net vir jou
Daar is iets sacred aan ons seerkry
Koester dit
Ervaar en beleef
intense seer hart
jubelende blydskap
smoorkwaad
verstukkend
Saam met aanvaarding klop alomteenwoordige vrede aan jou deur
Maak oop
leef dit uit in die nou
Dit is vlugtig. Altyd.

“lughuis” – Chenay Bruins

vir jou wil ek ’n lughuis timmer

met ’n atmosfeer van winde
sodat jou probleme kan weg waai

en met mure van drome
sodat jy jouself daarin kan uitleef

en met ’n plafon van sterre
sodat liewe jesus jou kan dophou

en met ’n slaapkamer van engele
sodat hulle jou kan soen voor jy slaap;

met ’n fondasie sonder geraas
sodat jy die klanke van vrede kan hoor

vir jou wil ek ’n lughuis timmer
sodat jy ’n rusplek vir jou siel kan hê

“more” – Chenay Bruins

vanaand het jy ’n verterende drang
om weer in die eden te kan dans

maar o my liewe ding
môre lag ons weer saam

kom dans dan saam met my
ek sal vir jou sing
en jy sal vir ’n wyle
van al die monsters vergeet

tot dan my liewe ding

kom lê tog hier by my
my hande sal jou bymekaar hou
terwyl ons wag
tot die son uit kom

“My kleine hartklop” – Doring de Lange

Ek kan voel hoe jy in my magie speel,
ek wens ek kan elke oomblik weer terug steel

Die wêreld is nie goed genoeg vir jou nie

Daar is so baie wat ek jou wil wys
Hoe ’n blommetjie blom na die eerste lente reën.
Ek wil hê jou modder voetjies moet my kombuisvloer seën

Maar my lewe is nie goed genoeg vir jou nie

Wat as jy my vra oor jou pappa
Sou jy ooit na hom verlang?
Hy is nie goed genoeg vir jou nie

“En wat van ouma ?”
Moes ek jou vertel hoe sy my uit skel ?
Sy is nie goed genoeg vir jou nie

“Mamma, wat is daai merke op jou bene ?”
Sou jy dink dit was jou skuld
“Mamma, asseblief hou op huil…”
“Hoekom is oupa so kwaai, mamma jou gesig is eina”
Hy is nie goed genoeg vir jou nie

My kleine hart
Ek is te hartseer, ek gee op
Eks verewig jammer
Dat ek jou hartklop moes stop.

Ek was nie goed genoeg vir jou nie.

Nog ’n Gedig deur Doring De Lange

“Shh, bly stil.”
“Niemand hoef te weet nie.”

Well wat gaan ’n hart dink wat nog van niks weet nie?

“Moennie worry nie, dis okay, lê stil, LÊ NET STIL, dit sal gou verby.”

Maar…
“Maar dit was net een keer. Net gou.”

Net.
Gou.

“Golwe” – Revan Schmidt

Voor die golwe breek
Los my net met nog ’n gedagte van jou
Voor die water my tref
Slaan my met liefde
Voor ek onder gaan
Omhels my met jou arms
En sê vir my
Dis als okay

“Lied” – Revan Schmidt

Jy het kaalvoet gedans
Op die melodie van my kitaar
En met ’n enkele koord
Het ek jou hart probeer bekoor
So ek staan voor jou
Gereed om te sing
Maar die gedagte van jou
Laat my sukkel om my woorde te vind
So ek skryf eerder vir jou ’n liedjie
Oor die helder maan en sterre
Maar hoe beskryf mens die glinster in jou oë
Mooier as ’n duisend verskietende sterre
So ek sit maar my pen neer
En luister na jou liefdes lied
En bid en hoop
Dat Jy veraltyd sal

“Venster” – Dianmarie Schoombie

Ek het vanoggend die Here natgehuil op die badkamervloer
Dit was seker ‘n groot lawaai
Die engele het by die venster ingeloer
Ons het nie gepraat nie, ek weet Hy het verstaan
Op daai oomblik het geluk saam met seer bestaan

(Gaan lees nog van haar amazing werk by @refreinkonyn).

“R2 liefde” – Rensia van Rensburg

Dis ’n fokkop en ’n gemors.
Jy staan met jou liefde en hulle wys jou weg
soos die vrou op die straat met haar
“asb. meneer, ek het twee kinders by die huis” kak
Ons sê dankie vir elke R2 deur ‘n skrefie venster
asof dit ons verlossing is,
maar die twee kinders, hart en siel
vreet ons uit die huis uit en jy besef,
miskien is R2 liefde nie meer genoeg nie.
– Я

“Niemand berei jou voor” – Rensia van Rensburg

Niemand berei jou voor
op die pistool wat dans teen die tempel van jou kop
op ’n ritme asof jy die Here God probeer wakker klop.
Onthou Jy my, Jy’t my aanmekaar geweef in moederskoot
Jy’t die duiwel daar vergeet, hy dreig my met die dood

Niemand berei jou voor
op die pistool in jou mond waar geheime sonde spoeg
op die “Ek is jammer, Ek is kwaad, Ek is so fokken moeg.”
Onthou Jy my, Jy’t my aanmekaar geweef in moederskoot
Jy’t die duiwel daar vergeet, dis hy wat by my spook

Niemand berei jou voor
op die pistool met sy stewige hand greep groet
op die totsiens tot ons weer sien, soutwater en bloed
Onthou Jy my, Jy’t my aanmekaar geweef in moederskoot
Jy’t die duiwel daar vergeet en miskien van my ook.

“Gekwesde Posduif” – Rensia van Rensburg

Ek het vir jou ’n brief geskyf
’n dankoffer aan ’n God wat glo in liefde.
Ek het dit weggestuur in hoop
vasgebind aan die poot van ’n gekwesde posduif.

“Die storm” – Estie Coetzee

Op ’n sonnige agtermiddag in Mei
was wroegende weer aan die smeul.
Jakkals jaag die wolf
se vrou.
Vrou wat al weet hoe jakkelse skreeu
en die broeiende storm vroeg kon ruik.

Snerpende koue kruip tot op my vel
lag-lag het jou winterwind gekom
om storms vanaf jou hart se suid-ooste
tot by my agterdeurstoep te waai

Donderweer jou stem in my kop snags na 3
Blits. Flikker. Beelde van jou om en om
om my,
verwoes, verskeur, vernietig.
Elektrisiteit slaan die aarde,
bitsig verdedig flou verskonings
dan kom die groot reën.

Reën klink blik op ’n ou laslap sinkdak
Reën voel goed op ’n harde vel
Reën.
Reën is skrop, skuur en die was van gewete
Reën laat verdrink, versuip ou gedagtes
Reën.
Reën proe goed vir groei op dorre grond
Reën sien trane rol, tot in die dieper wese
Reën.
Reën saggies, al  sagter
water droog op,
’n siel is versadig.

Wolke breek weg.
Helder blou heuwels
skreeu van jou vryheid,
Vrou,
wolwe en wolke van die verlede
lê agter die oorwonne berg,
Agter jou.

Dis hoe storms eindig,
na al jou sorge weg gewas is.
Dis hoe die son weer glinster
op die skerwe van ’n stukkende hart.
Dit is,
hoe vrou weet,
Sy beheer
eintlik die weer.

“Sterrekyker” – Krizél Langenhoven

Op die skuins sinkplaat onder die sterre lê ek en verlang na die reuk van jou omgee.
Jou sagte hart wat letterlik elke atoom in my laat lewe het, was so mooi soos die letsels van jou onperfekte menswees.
Jy’t my agtergelaat met onvervulde hoop en ’n half geliefde hart, terwyl jy rondloop met ’n hele liggaam van my liefde
Die tipe liefde wat jy nooit wou aanvaar nie
Weggekwyn in die sterre is jou lag wat saam my op die piekniekkombers gesit het
Nolstalgie vanaand sonder enige twyfel sukkel ek om die gevoel van jou oë te vermy
Jy’t gekyk
Reg deur my menswees
Tog het jy my verniel en verlaat met net om te wees want my mens het verander na ’n sterrekyker
Ek’t jou gesoek in elke hemelruim
Dis nou jammer
Want
Jy was my hemelruim
Nou is ek geketting in pikswart lig
Dalk leeg
Maar mooi
Soos die donker vlekke op die maan
Sterrekyker.
Jy’s weer mens

“Kunswerk” – Krizél Langenhoven

Jou hande maak kunswerk, elke hart waaraan jy raak verander jy in ’n gallery van liefde
Die manier hoe jou glimlag ’n museum laat skaamkry, veroorsaak sametrekking van my koronêr
Elke palet van jou menswees behoort op ’n verfkwas ek sweer dit sal hang op die voorstoep van my hart se kamers
Jou sagte sameet oë laat Mosselbaai se sonsondergang skaam kry
Die lyne van jou gesig maak my opgewonde oor hoe perfek dit saam smelt met die lyne van my siel
Die siel wat jy kom inkleur het met jou helder omgee en swaarbelaaide liefde
My gunsteling
Geel en gelukkig weerkaats perfek uit jou mondhoeke
die mondhoeke wat onbewustelik ’n engel glimlag afgee
Ek skryf jou naam neer in ’n digbundel en ek sien hoe die woorde wegkwyn na die hemelruim
Dis jy
Jy’s die mooiste hemelwese
My gunsteling portret
Die soort wat aan die godelose bewys dat God wel ’n kunstenaar is
Elke skakering
Elke vou
Bere ek saggies op my boekrak.
Sodat niemand anders jou kan lees nie want met vrees word hulle dalk so lief vir jou soos ek
Digbundel
Kunswerk
Jy’s ’n gallery, waardeur ek nooit ophou wil loop nie.

“Soos Eva” – Die Meermin

Sy staan voor hom kaal
die een wat haar so gemaak het
Onbewus soos Eva

Saans gaan swem sy in die verbode rivier
Haar vrese stroom in
en die wantrouige wind waai

Sy is moeg geveg

Hy draai haar om op haar rug
sodat sy hom kan sien

In die kalmte van die nag
en helder maanlig

word sy stil
en Hy luister

“Ek dink aan jou” – Rynhardt Peens

Ek dink aan jou….

Jy van wie Aphrodite gedigte skryf en dit oplees in ’n troonkamer voor griekse gode.

Jy wat so helder skyn soos die glinsterende son wat se lig ’n triljoen kilometers strek.

Jy wie se glimlag my hart soos ’n mentos en coke eksperiment laat oorloop van liefde en wonder.

Jy wat die lewe weer die moeite werd maak, vir wie ek kaalvoet met jou in my arms oor die rooi kole van liefde sal dans sodat jou voete nie brand nie.

“op ons grafsteen” – Henry Tromp Jnr

ek wil afskeid van jou neem
ek wil my emosies afsit
ek wil my demone wat oor jou worstel gerus stel
ek wil myself belowe dat dit verby is
die pyn, die leiding, ek en jy

ek wil ons verlede begrawe in die diepste graf
en die mooiste blomme daarop plant
ek soek ’n grafsteen gemaak uit julle ou hout tafel waar ons altyd kon lag

ek soek die rosies wat jy altyd gepluk het rondom ons
dat ons altyd die avonture sal onthou
ek soek ’n reënmeter met ons trane in vir wanneer ons soos swakkelinge vou

ek soek woorde by die roudiens wat ons laat lag het
en die reine waarheid saam met ons gebêre waarop ons gewag het

ek onthou na al die seer hoe ek myself oor jou sou ontferm
so ek soek duiwels om ons terug te vat
en engele om ons te beskerm

ons sal in ewigheid vêr van mekaar lê
terwyl jou verleidende stem my aanhou streel met die woorde:
“ek wil jou terug hê”

“Ek sien” – BN Nel

Ek sien mense’s bang, ek sien ondergang, ek sien lyke hang,
Ek sien rou emosie en nugter denke in die gedrang,
Ek sien geen spieëls nie, ek sien geen daglig, ek sien ook geen glas,
Ek sien wrang gesigte en sagte hande word deur gewas,
Ek sien hopeloos, ek sien hongerte, ek sien moordkyke,
Ek sien die oorgawe en armoede sonder gelyke,
Ek sien stil gille, ek sien stom kyke, ek sien die dood blom,
Ek sien die predikers wat lyke bêre voor môre kom,
Ek sien trae treë, ek sien krom skouer, ek sien die hartseer,
Ek sien die lesse wat simpel mense weier om te leer,
Ek sien vooruit, ek sien agteruit, ek sien die blindekol,
Ek sien die man wat gedweë op sy stringless kitaar tokkel,
Ek sien ’n Marilyn, ek sien ’n Amy, ek sien ’n Elvis,
Ek sien ’n druggie wat sy donker lot beskaamd betwis,
Ek sien ’n moeder, ek sien ’n vader, ek sien ’n kleintjie,
Ek sien ’n wye kraploop onder invloed van ’n wyntjie,
Ek sien die duiwel, ek sien ’n engel, ek sien vir myself,
Ek sien die moeë siele wat vir ’n moerse pot goud delf,
Ek sien ’n gister, ek sien ’n toekoms, ek sien ’n hede,
Ek sien g’n greintjie blydskap of hoop of drome of vrede,
Ek sien net wanhoop, ek sien net opgee, ek sien net mismoed,
Ek sien hoe hardegat gangsters verstik in hul eie bloed,
Ek sien die einde, ek sien geen middel, ek sien geen begin,
Ek sien hoe die aarde vergaan vir mens se eie gewin…

“Afskeid” – BN Nel

kraaiklou woorde
pluk die mens
uit my wese
en smyt dit voor
klipvoete neer,
in die skadu
van die son
verskroei my tong
tot ruspe status
wyl my oë ween,
sinvolle erosie
koggel die dae
tussen lewend-dood
totdat die viool
my afskeid stil-stil
op een noot gil…

“Oppervlakkigheid” – NJ Robbertse

Mag jou oppervlakkige gierigheid tot materialisme gesmoor word met die basiese eenvoud van opregtheid.
Dit is tyd dat ons die politici eenkant sit.
Fokus op vandag se wonderwerke – jou eerste asem vir vandag is ń geldige rede om te Glo.
My liewe Here, mag ons elke Sondag gaan stap in die tuin en daarna gesels op die stoep oor nog ń dag se sonsondergang om U opregtheid te vier.
Hê mekaar lief

Groot

Asseblief!?

“Digter en drome” – Lisa Kitching

“Ek het gedroom van jou gisteraand.
Ek weet nie hoekom nie.
Dis alles so deurmekaar,
Beplanning was hierdie beslis nie.

Ek was seker ek kon jou vergeet,
Maar nou…
Nou dwaal jy weer in my gedagtes rond.
En van voor af begin ek weer rou…

Die Jakaranda bloeisels moet mooi kyk na jou.
Ek sal okay wees, terwyl ek ’n deel van jou in my hart sal hou.

Ek weet ek het baie oor jou geskryf
Maar nou voel dit of alles wegdryf.
My denke, my hart, my woorde,
Alles wat was, het so mooi in mekaar gepas.

Nou is jy vêr hiervandaan en my hart het Probeer verstaan hoekom jy weg moes gaan.
Ek wou jou hier hou met alles in my,
Maar Pretoria se strate het jou gesmeek om te bly.

‘Dis seker beter so,
Dis goed om dit te glo
En eindig ek nou,
Los ek dié vir jou.
Al was dit dan verniet,
Was dit als vir jou.’

Spoegwolf sê alles wat ek wou.
My hart dra ek nie meer op my mou.
Jou stem het ek al vergeet.
Afstand word nog steeds tussen ons gemeet.

Of ons weer sal ontmoet, dit weet ek nie, ek sal maar vrede maak daarmee.
Verlange in my hart vir jou was dieper as die see.
Elke dag het ek gewonder, elke dag het ek gedink…
Of my gevoelens vir jou saam met Ingrid in die see sal verdrink.

Hierdie gedigte sê alles wat ek nie kon.
Ek het altyd tot laat wakker gelê terwyl ek luister na Spoegwolf se song.
Daar is soveel diepte in hierdie woorde wat ek los vir jou.
Liewe Franco Pienaar, vir jou sal ek altyd onthou!

Maar alles wat ek gevoel het waai nou saam die wind.
En eendag sal ek my eie see vol geluk vind.
My hart sal dan wel aan iemand anders behoort.
Maar vir nou sit ek die pad na my eie sukses voort!”

(12 April 2020)

“Niemandsland se oerwoud” – Kyle Macdonald

Tussen varings en vreugde
Waar die son saggies praat
Daar wil ek leef, vry
Van elke Judas se raad

Waar die rotse my bewaar
En die stilte my beheer
En die strewe na vrede
Vry is van die seer

Waar die suikerbekkies soet vind
En die nagbries ritmies voel
En die eindelose tevredenheid
My in selfliefde kan afspoel

Ek smag na daardie sonopkoms
En wedersydse verstaan
Wat tussen mens en natuur
’n Simbiotiese weg sal baan

Ek soek ’n werklike ontsnap
Weg van die selfgekweekte druk
Ek soek ’n plekkie in die oerwoud
Voor die werklikheid my insluk

Want in die wêreld wat ons só rondruk
Kort my menswees net ’n stukkie geluk

“God se kosmiese bewussyn” – Madia Steenkamp 

verblind my met God se kosmiese bewussyn.
spoel my met Sy geniale radiasie.

laat my drink van Sy suiwer melkweg
& les my dors na die soeke van verstaan.

versadig my respirasie met die tipe suurstof vir die laaste asem hier en die eerste asem daar.

maak my sterk om my swaartekrag te kan dra sodat ek kan stap in my magnetiese veld.

bring vrede aan my abstrakte tempel wat beskerm word deur vel.
bring vrede met die wete dat ek môre weer verblind sal word
met
Sy
Kosmiese Bewussyn.

“NAGVLUG” – Jo

Die son is stadig besig om te sak, agter golwende heuwels wat die hele dag al onder sy strale lê en bak.
In sitplek 12A maak ek my tuis
Kyk by die venster uit en weet ek is amper weer by die huis.
Word saggies teruggedruk in my stoel, daardie wonderlike gevoel van vryheid, van vlieg, van vlerke, van fors en ons verlaat die aarde se swartgeteerde kors.
Die landskap daarbuite word deur die donker ingesluk en ver, ver in die verte skyn die rooi gloed, soos ‘n dun lyn op die horison, soos bloed.
Mense om my slaap, eet en lees
Hulle verkies om nie te dink aan die alomteenwoordige vrees.
Daar ver onder skyn die ligte, liggies blink
Soos ’n juwelekissie met pêrelstrate wat kronkel en slinger tussen diamantgeboue en huisies van sink.
Ver onder lyk alles so bitter klein, en terselfdertyd heeltemal te groot, oorweldigend groot, te groot vir my brein.
Voel ek klein, kleiner, kleinste en…. ek verdwyn.

“Die mooie dood” – Chantel Cloete

Stil ruk-ruk

Skaduwee was heen en weer pluk

Tussen twee gedagtes hink

Met ʼn toe mond verdrink

Alleen, afgesonder tog uniek

Koffie en roetine versteur die paniek

Rank plant

Soos die sterre brand

Slaap sag kindjie Slaap sag

Die son bring more se dag

#Vinkel

“My hart se olyfblaar” – Chantel Cloete

As die son sy strale oor jou wangetjies vee

Smelt my hart my dierbare kind

As jou blou ogies skitter en stadig knip

Verstaan ek uiteindelik die liefde wat harte verbind

Ek is geseën met ewige rykdom

’n beeldskone perfekte kasteel

Wiegend loop die traantjies

Wat ek skelm weg streel

Handjie wat styf om my vinger knyp

Herinner my aan die maanlig

Die sterre wat glinster vol vertroue

’n snoesige somer drukkie teen die winter koue

Ek val terug in ’n poel vol trots

Ek styg weer nederig op, oë toe gewasem

Ek sing saam die reënboog ’n “Bittermaan” wiegelied

Bitter onskuldig soos baba asem

Leave a Reply