Categories
Gedigte

Die week se beste gedigte

Ek het vandag ’n laaste keer deur die gedigte gegaan terwyl ek self aan lirieke moes werk in die studio. Ek is so stomgeslaan deur ander mense se talent dat ek besluit het om nie enige van my eie woorde vandag te hou nie. Ek moet self eers bietjie gaan werk. Dankie vir almal wat so ongelooflik hard werk om gedigte aan die lewe te hou. Dit bly ’n voorreg en ’n eer om hierdie te mag doen!
Hiermee die week se beste gedigte,
Danie

“Hart en val” – Elani Heystek

[17 Oct 2019]
Die kardioloog probeer nog sy diagnose verduidelik
Na gisteraand se vreesaanjaende gebeurtenis
Intense trappe van vergelyking:
Vibrasies wat die ewewig omvêr gooi los my lam van vrees wat volg met ’n donker stilte
My hart het geskrik
En sy het alles laat val

Blykbaar met grysheid kom wysheid
Maar weet hierdie omie rêrig waarvan hy praat
Het hy al ooit hierdie wetenskaplike termes ervaar
Die eienaardige teorieë self beleef
Die hogere woorde oor my hart en haar vier kamers
Skiet soos ’n vuurpyl bo oor my kop nog voor ek kan sê
Een
Twee
Drie
Ên vier

Wag
Is dit déjà vu
Agnee hier gebeur dit weer
My brein skreeu help
My lippe vertaal e i n a

Nog voor die naalde en spelde hulle dans kan aflê
Begin die trappe van vergelyking hardloop maar die keer net vinniger
My asem wou nie terug kom om nog suurstof te kom haal nie
My wêreld foeter behoorlik van sy as af
Dit is pik donker in die dood se stilte

My oë fokus paniekbevange op ’n dowwe liggie
Ek staan in my hart se ingangsportaal
Soekend na haar vier kamers
Geen wonder my hart het geskrik
En sy laat alles val
Sy is Uitgeput Moedeloos Broos Gatvol

Die eerste kamer se deur is telkemale toe gehammer met jammer woorde
Om te voorkom dat enige iets hieruit moet ontsnap
Ek ontdek haar verlede aanmekaar geplak met genade
Al die seer verwyte verwerping en vernedering waarin sy soms vasgevang word
Al die verkeerde keuses en besluite wat bly uitbloei
Die leë beloftes wat die eg geskei het
Selfsugtigheid wat sleutels in die helfte laat knak het tot op die been
Die onverwagte aneurisme wat destyds oor die grens gestap het om sy brein te ontmoet

Hede verwelkom my in die tweede kamer
Die son is skerp maar warm hier
Nuwe avonture wat opwindend rond flapper saam met ligter siele
Tussen berge van hoop en dankbaarheid
Vryheid groter as al die oseane saam
Jy kan die kalmte tussen al die georganiseerde chaos hoor sonder ’n stetoskoop
Hiér wil ek bly

Die derde kamer blur erg asof watte aan my oë vas plak
Die ritme is te vinnig – waar is daardie defibrillator
Al die to-do lysies waarby sy nooit uitkom nie hang oorweldigend in die lug
Vol Bekommernisse Vrese en Onsekerheid oor die toekoms
Hoe gaan sy die lewe wat haar liggaam gebaar het alleen groot maak

Sy fluister saggies vir my om weg te bly van die vierde kamer
My nuuskierigheid kan nie beheer word en ek vind al die wense
Hoe die lewe eintlik moes wees
Gevaarlik verlief op idees
Wysheid toe gepas op my eie lewe
Alles is net in die perfekte dimensies
Waar abnormale ritmes vrede bring

Ek wou nog op haar mure notas met ’n stent graveer
Sy moet weet sy is genoeg
Sy is geliefd
Sy is nie gebreek
Ek wou by haar pleit om aan te hou positiwiteit te pomp
Haar te herinner om die verskil te wees wat sy so desperaat na honger

Maar Wag
Ek hoor die omie sê staan terug

Een
Twee
Drie
Én vier
Elektriese golwe oorrompel haar
Die presiese pyn is soos ’n pyl se punt wat deur ’n prooi penetreer
Nou probeer sy ’n perfekte pols pomp
Ek snak na my asem want die keer vloei te veel suurstof deur my are

Ek besef toe
Dit is wanneer die lewe met sy karakters en hulle kolonies
Hopeloos te vinnig deur haar vier kamers versnel
Wat sy so mooi en veilig probeer bewaar
Juis dat hulle nie in mekaar moet vloei
Dit is wanneer my hart skrik
En sy alles laat val

“Soekend” – Christos Pietersen

Die nag bedek my oë en in dit kruip ek weg
My stem sal my dalk uitlewer want die
geraas in my is te hard
Die bloed op my is droog
Gedagtes galop soos donkies deur my drif
Die merk van my eie waansin in die
aangesig van tyd lê oor my siel
Asof daar hier ’n ploeg gesleep was om die
grond oop te breek
Ek wag vir trane soos reën en reën soos liefde
Te veel takke het hier al geklap soos hulle breek
Soos‘n ou tuinhekkie swaai ek heen en weer
en raas net genoeg om myself verder te versteur.

’n Tweede gedig deur Christos Pietersen

Die weste trek sy rooi baadjie aan
Nog ’n dag gaan lê in ons Moeder se arms
Hou net vas my lief
Die bloed sal ophou loop
Nou sien ons net ’n stukkie van die maan
Die nag sal om ons val, of jy nou wil of nie
Maar die oggend sal ook kom en jou vind
met jou hande om ‘n beker bittersoet koffie
Mag ons harte dan ook nou
voller word met lig, soos die maan
Aand na aand.

’n Derde gedig deur Christos Pietersen

Ek spring dan op my swart perd
sonder voorkeur jaag ek weer die hel in
onder skaduwees van die maan
Nou lek die vuur my hart en treiter my tot ek slaap
Ag Here, kan als tog net okay wees as die son opkom?
Ek verdwaal tussen stemme op die dorp,
die strate net vol chappies wat aan my klou
Op my perd jaag ek die hel binne
Dalk hierdie keer sal dit minder seermaak?
Dalk sal dit help?
Ag Here, dalk die keer sal ek onthou om die
emmer water saam te neem en die vuur te
blus wat my so steek
Dalk sal ek volgende keer kyk na die laken
van die maan, my oë toemaak, smile en sê:
“not this time”.

“14/02” – Kenan Davis / Ontmasker

Ek kort ’n oomblik
Net om alles in te neem
Die Valentynsdag is ek alleen
Weereens

Tog verjaar my ma vandag
Spoegwolf se nuwe album het sopas uitgekom
Ek het nogsteeds nie ’n valentyn nie
Weereens

Weereens
Spaar die Here my ma ( dankie )
Spoegwolf bring trane ( goeie trane )
En soek jou nogsteeds ( ongelukkig )

Die dag was goed
En ek is okay
Sonder jou
Vir eens

“Winter” – Revan Schmidt

Die lig het geval op jou wang
Ek kon net-net jou gebroke glimlag sien,
Jy het verwaarloos gelyk,
Jy het na my met daai oë van ys gekyk
Daar was geen twyfel oor die seisoen
Dit was winter in jou hart,
Dit kon ek duidelik sien
Die mossies het begin fluit
Toe jy Hom vir die eerste keer sien
Die sonneblom strale het uit jou hart geskyn
En die flinders het in jou beweeg
Binne jou was dit lente se reën
Dis nou somer
Het jy vir my gefluister
Een aand toe ons na die sonsak kyk
Dis die mooiste mooi vir my
Maar winter was nodig….
Dit was die winter van 2018
Toe ek die Here
die eerste keer sien

“Herfsson” – Kyle Macdonald

ek het vandag weer by die berg opgeloop

ek het voëltjies hoor sing
en ek het bome met vaal blare gesien
en ek het ’n sonsopkoms met bewondering waardeer

ek het op ’n hoë klip gesit
en ek het als gesien
en ek het vir ’n oomblik verdwyn in die skoonheid

ek het die vroeë oggend stilte aangevoel
en ek het die horison noukeurig bekyk
en ek het in dankbaarheid saam met die herfswind gelag

ek het die oranje lug toegejuig
en soos ’n klip in die oopte
het die son my ingekleur

“Jy” – Renate Stander 

Jy is iets uniek. Soos reën op ’n wintersdag of die son wat skyn in ’n donker nag.
Ek wil jou elke dag van voor af leer ken en toelaat dat jy my hart oor en oor met elke glimlag wen.
As ek kon beskryf hoe ek oor jou voel, sou ek steeds nie. Want woorde het perke, en dit wat ek vir jou voel het geen.
Ek wil saam jou sing tot die liedjies opraak en saam jou dans tot ons voete die ritme vanself ken.
Ek wil saam jou lag tot ons stemme stil raak en elke liewe kronkelpaadjie saam jou verken.
Ek wil met jou gesels tot ons woorde opraak en 366 dae van elke jaar saam met jou spandeer.
Ek wil elke liewe tree van die lewenspad saam jou stap, deur geluk, deur hartseer.
Jy, is iets uitsonderliks. Soos die son wat opkom oor die stille blou see, of die kleure van die reënboog na elke bietjie reën. Jy is soos ’n storie wat wag om geskryf te word met woorde wat nog nie bestaan nie.
Maar bo al hierdie dinge, is jy vir my ’n geskenk. ’n Geskenk wat ek elke dag van voor af kan oopmaak, asof vir die eerste keer. Nie gekoop of geleen maar deur genade is ek met jou geseën.
As my woorde ooit opraak wil ek hê jy moet weet, my liefde vir jou is soos die sterre, wie se gewig jy nooit sal kan meet.

“Voel saam met my” – M. Maartens

ek wil hê jy moet saam met my
jou skoene uittrek
en kaalvoet speel soos ’n kind

ek wil hê jy moet langs my
op die gras kom lê
en in stilte die sterre
se grootsheid bepeins

ek wil hê jy moet saam my
in die kombuis begin slow dance
terwyl die ketel kook

ek wil hê jy moet saam my
verdwaal
in al die real en die rou
van liefwees

en ek sweer
as jy my net sal toelaat
sal ek jou bemin
tot die dag wanneer
ons liggame
weer terugkeer
na die sterre

“sweef” – Simone Ras
(gaan volg haar by @geelskrif)
ons sweef met vlerke van lug
oor verdwaalde lande.
die mense staar suutjies en stadig op na ons
wat deur die bewegende blare                    van bewonderde bome vlieg.
die swaartekrag het geen houvas op ons nie
en die wolke drentel om ons
soos doudruppels op die koue
someroggendgras.
klaviernote vol passie en herinneringe
druis in die agtergrond
van ons reis bo die grond.
ons gedagtes smelt saam soos wat ons hande
raak en die glans in jou oë reflekteer teen die
wande van my hart.
nie een van ons het enige intensie
om te land nie,
want so lank as wat ons saam is,
sal ons aanhou
sweef.

“Aalwyn in jou taal” – Chantel Cloete

gemaak om bitterheid te aanskou
vorm alg in die kele
terwyl oë na ʼn ander storie staar

wat vertel alles is perfek
kyk links, kyk regs
leuens is veilig
kyk op na bo
besef ʼn groter mag wat leuens nie glo

vir minute sit en dink
vir ure stap sodat daardie gedagtes wel in sink
vir maande staar na niks
jare verby en wonder was als die moeite werd

“lewe vir nou en vergeet van gister, moet jou nie bekommer oor more”
is ʼn gesegde elke dag gesê

– maar die maskers van

die realiteit van gister
die besef van vandag
die droom van more

kerm in drome
skree deur die hart
wys in die gebruik van hande

en op die nippertjie van omdraai
is dit jou eie stem wat jou geloof verraai

#Vinkel

“ONTMASKER” – M. De Kock

Haal af jou masker ek wil jou seën.
Ek wil jou seer liefhê in hierdie silwer reën.
Jou demone elk plek gee om God en Sy engel te ontmoet.
Die pyn en letsels finaal te groet.
Sit die maskers weg laat ek jou seën.
Staan jy kaal voor my in die winter reën
Durf ons die naakte waarheid saam aan.
Ons rafel uit langs mekaar vanaand.
Verinneweer deur die koue
Jy’t my hiermee iets moois geleer.
Die monsters sal my nooit kan keer.
Ek het jou lief en dit sal altyd genoeg wees
Al verloor ons weer en weer
Selfs die duiwel kan iets by ons God en hierdie liefde leer.

“VLUGTELING” – M. De Kock

Die woude om my woed
In die middel van ’n veldbrand se gloed
Die vlamme dryf my tot teen die rand
Die bome waarin ek bly kwyn weg
Deur die rook lyk my lewe nogal sleg
My veilige hawe verdwyn in ‘n oogwink
Dis net die kalm rivier wat nou rustig klink
Die vuur styg tergend hoog bo my uit
My lewe is verwoes, dis ’n feit
Ek vlug na jou waters, waag om te verdrink
Gaan ek dryf of onder jou wegsink?

“Sintuie” – Anke Eksteen

In al my sintuie vind ek ons laaste oomblik saam, keer op keer, en dis in my drome net soos laas wat ek jou onwetend begeer.
Ek voel weer tuis in jou arms soos ons skaamteloos vasgevang in die oomblik, ritmies op die dansvloer draai en ek sien weer jou brandende kyk wat pure verwoesting binne my saai.
Die reuk eie aan jou spoel weer oor my soos jou lippe oor my skouer en nek sagkens streel en in die oomblik, tussen die skares van mense, hoor ek onverhoeds die diep melodie van jou lag speel.
Die geur van jou aan my lippe mis ek alweer op uit, ‘n verlore oomblik van volmaaktheid waaroor ek myself verwyt.
My sesde sintuig is jy my mens wat my vir altyd sal by bly.

“It’s not mine to keep” – Mijaune Smith

ek het gesien jou voetspore trap anders
daar’s ’n stukkie leer gestik
maar jou veter sleep in die modder.
die weer woed
en PE se wind hou aan met groet

die kerkgebou is leeg en koud
en die stage ondersteun nog my kitaar
maar my vingers is geroes en
my stem moertoe geskuur

trots en humility is wit en swart
my big break is soos die lotto
one in a million, maar ek soek dit nie
ek soek jou hier

wat sal ek doen met hierdie songs, my lief?

ek wil aanhou skryf totdat Donkin terugkom en sy vloot herbou
ek wil aanhou skryf totdat Birdstreet se nagvrouens hulle harte bekeer
ek wil aanhou skryf totdat die Here my afhaal van nagskof
ek gaan aanhou skryf totdat ek terugkeer na stof.

ek wil net teruggee wat nie myne is.

dis wanneer ek die lotto sal wen.

“Brand” – Vian Ferreira

Brand al my gedigte aan jou
Miskien sal die vuurwoorde
my passie tuis kan bring
wat ek nie kan nie

Veras my verkeerde prioriteite
Slegte besluite
en geite

Steek die vure op
teen my onvermoë
om myself te wees

Maar jy doen nie
Jy brand-
Merk reeds al my tekortkominge
Met jou liefde

“Ons land van liefde” – Rynhardt Peens

Ek Beplan nogsteeds om hand aan hand met ons vanne wat dieselle is te loop in die strate van Italïe.
Ons kan al die klein winkels vol nuwe avonture saam ontdek, saam kan ons die Monferrina leer en dit opvoer in die Colosseum.
sjoe maar ek is gek,
Gek oor jou hande wat die koppie Gelato roomys uithou vir my om te proe.
Gek oor jou voete wat oor die ou steen paaie van Ceasar se tyd al, my orals lei om heen en weer te bestudeer wat als versteke lê in ons land van liefde.
Gek oor jou hare wat in die fluisterende wind my sintuie vul met jou reuk wat my laat tuis voel.
Gek oor jou warm glimlag wat met die glinster in jou oë kompeteer oor wie eerste my hart gaan sag maak.
Gek oor jou lyf wat soos Delilah my harde dop op die eerste sig kon kraak.
Gek oor jou, die ware jy, wat saam my in die gesteende strate die Il Canto degli Italiani fluit terwyl die Son oor Italië kyk en sê fluit fluit my storie is uit.

“ek kyk terug” – Henry Tromp Jnr

ek kyk altyd terug na daardie een oomblik
dit was net een verdomde kyk
een simpel donnerse glimlag
wat my hart kaal in die koue laat staan het

en soos ek nou staan dink ek
hoekom het ek aangehou
my hart het broos geword
oor jou lippe wat nie wou tuisbly

my mure was finaal afgebreek
ek was gereed
net vir jou om dit te vererger
en hier dryf ek alleen
ek dryf stroom op
en ek kan dit nie keer nie al wil ek

ek hoop ek sal eendag kan verstaan
hoe jy dit oor jou hart kon kry
om nie eers te vra oor my
oor hoe ek voel, oor wat ek wil se

maar ek kyk altyd terug na daardie een oomblik
dit was net een verdomde kyk
een simpel donnerse glimlag
wat my hart kaal in die koue laat staan het

Leave a Reply