Categories
Gedigte

Die week se beste gedigte

Jy sal self sien dat ons elke week meer en meer gedigte kry. Ek het vandag een bier geskenk gekry by die eetplek net onder Drum. Daarmee het ek gedigte gelees en gedink oor gedigte… soms sommer rivier toe gestap en gekyk of ek van die verse kan opsê uit my kop uit.

What a crazy time.

Tog is daar sanity in ons inskrywers se woorde.

Dit bly my grootste eer om hierdie te mag doen.

Danie

“Winter” – Nannette Botha

Soos sonskyn deur ’n venster
laat jou glimlag
die koue daarbinne na ’n vae illusie lyk
Winter binne jou
Winter is wie jy is
Mooi vir ’n oomblik tot die pyn
Wat hoop bring insink
Die vure om jou het hoog gebrand
Ek het myself soms daar verloor
Die son op jou laat skyn
En gehoop die ys verdwyn
En as die winter sy tol eis
Dan vlieg die swaeltjie Suid
Want dis oorlewing vir ons almal
Winter, somer
Tyd bring vrede

“reinig my” – Henry Tromp Jnr

ek skree met my laaste asem
Here help my
beskerm my hart
vernietig hom.

reinig my van haar bloed, trane en sweet
want dit klou aan my en sy wil nie laat gaan
gee terug my menswees, wie ek was
want haar aangesig bring gewekte seer

gee vir my ’n rede om te bly
aangesien die wêreld my weggegooi het
gee vir my ’n rede om aan te hou lewe
aangesien ek my gees aan die dood moes afstaan
aan haar.

gee vir my vyf sekondes
net om alles te verbeter

verbeter word vererger
vererger word vernietig
vernietig word verlore

ek vind myself weer met my laaste asem
ek worstel weer met elke gedagte van jou
Here help my
beskerm my hart
vernietig hom.

“illusie van veiligheid” – Henry Tromp Jnr

ek’t nog altyd gewonder oor liefde
altyd opgekyk na ou getroudes
en na die jongelinge wie se liefde vir hulle weghardloop
ek’t uitgesien na hoe liefde jou lewe kan omtuimel

vir eens was my siel dors
dors vir aanvaarding
en uitgehonger vir onvoorwaardelike liefde
ek’t gesmag na iets rein uit die skoonste hemele
iets wat my kan beskerm teen die bose siele wat my hart laat disintegreer

ek’t so uitgesien na iemand wat saam my die donker skaduwees kon wegjaag
ek’t gesmag na ’n rots wat al my trane kan opvang in klein poele
net sodat die gety dit weer kan wegspoel

ek’t uitgesien na die dae waar ek vir jou my trots kaal kon neerlê
die dae waar ek die man wie ek was kon oorgee aan jou
waar ek die sluise van my hart kon oopmaak met die wete dat jou wal sou staan

ek’t uitgesien na die dae waar ek elke sproet op jou wang kon tel
en van voor af verlore raak as ek skelm in jou oë wou staar
ek’t uitgesien na die skelm soene agter die yskas se deur as jou ouers nie kyk nie

ek’t uitgesien na liefde
maar dit was alles ‘n illusie
’n illusie van veiligheid en vals hoop

my hande voel gebonde
ek kan nie dit keer nie
die skaduwee wat ek wil skiet
het hom self kom voorstel
ek het jou ontmoet.

“Raka” – Floris van Staden

Kyk my ma het my gewaarsku
selfs teen die monsters van die see
maar niks kon my voorberei vir wat
my in jou ontmoet nie

Wanneer jy mymer en met sielsaligheid
’n feetjie sien nesmaak, kan een ‘ja’ ongevorm
en ongeteel my oplek soos ’n vuurtong sou

Ons kort net gras wat jou oortuig om jou
skoene uit te trek en ’n boom wat teen
die son baklei dan kan ons al hoor hoe die
kinders touchers speel en saam alles
op die lyn sit en as een opgelek word
soos ’n vuurtong sou

Reg Rondom – Witkat van der Merwe

Mense praat van wonderlus,
blykbaar plekke nooit gesien
waarna ons mis?
Eintlik is hulle net naïef
reg rondom van verassing gedief.
Staar dan oor die horison
asof die oog ooit kan sien
wat van veraf kom.
Onthou reg rondom
is die wêreld vir jou lief.
Hulle speel net stom,
soos ’n Pa
wat sy seun se lewe los
al gaan dit hom verewig pla.

Onthou na ’n aand vol van sterre
moet die maan eers
sy wentelbaan voltooi
voor jy weet
hierdie oomblik is eintlik mooi.
So kyk eerder na die gras
onder jou tone
en na die lewe
reg rondom in die bome.

“My lewe is ’n gedig” – Lisa Kitching 

My lewe is ’n gedig.
Soms is dit broos.
Soms is dit vol blydskap.
Daar is dele wat treur en daar is dele wat ek in kan kleur.
Nie almal gaan van digkuns hou nie.
En ek dink nie mense verstaan hoe mooi en kosbaar digkuns is nie.

Digkuns is die mooi veldblommetjies langs die pad.
Dis die sonstrale wat op my gesig dans in die oggend.
Dis die koue seebries wat aan my gesig kleef.
Dis die deurmekaar kamers van my winter hart.
Dis die diepste denke wat maal in my kop.

Ek wonder of mense die skoonheid van digkuns sal kan verstaan.
Of hulle dit sal waardeer.
Ek dink eerlikwaar net die tyd sal leer.

Nie almal gaan jou verstaan nie.
Nie almal gaan jou ondersteun deur dit waardeur jy gaan nie.
Jy is die digter van jou eie gedig.
Iewers gaan iemand nog oor jou skryf.
As ’n digter eers oor jou begin skryf is daar nooit ’n einde nie.
Jy sal verewig deur daardie digter se pen uitvloei.

Die lewe is soos ’n gedig.
Net jy, en net jy alleen
kan daardie gedig ontleed.
Laat die blou ink die woorde op die growwe spierwit papier uitspoeg.
Die woorde wat joune is.

My lewe is ’n gedig.
En ek sal aanhou skryf.
Ek sal aanhou uit my hart uit skryf.

(Gaan volg vir Lisa by @ekskryf !)

“Marquerite” – Suné Winter

hey Marquerite
ek kan jou onthou as 14
soos die wind deur hare op hokkie bane
as daai kind op die liefdes gety
in ’n ander land se opvangs

ek onthou hom op 15 met onskuldige oë
sy paadjie wat jou deel in twee soos sy hare
julle liefde toe soos herfs blare
onseker hoe lank dit gaan vat voor jy val
maar toe jy het was jy gered
hoe dan nou?

en in die donker gegiet
‘hier is ons reën, my lief’
jy lê jou neer aan stilte
toe hy wonder oor beloftes
jy het klein geword
met ‘n hart vol van hom
‘vergeet my nie’
jy sit dwars op die grond
met jou bene teen sy bors
O hel
dis asof daar net iets was

hey Marquerite
ek ken jou op 15 en ’n half
met die bries van hom wat waai deur jou
ek onthou hom op 16 en ’n half
te naby vir vêr van jou

en uit die donker geskiet
sing jy vir hom julle lied
‘my lief, vergeet my nie’
met julle mense op die gras
O hel
dis asof daar net iets was

ek kry julle toe weer
die keer by Ohana Café
as kind wou ek soos hierdie twee mense wees
wat in mooi truie
na die groot vryheid beduie
oor die water
van hulle liefde wat sweef op getye
(vir marquerite)

“Ons treine” – Suné Winter

Ek onthou ons sondae braai by jou
ons sit kruisbeen op die mat
onthou jy ons treine
dit skater oor ons kinderdae,
My skat.

As die wind fluister deur jou bruin
en die golwe rol oor die sand
oor die rotse waar my voete gly
ek val, jy gryp my hand

sien jy die stroom?
daar glinster my seer
het jy my gehoor?
dis daar
waar die naggeluide
saggies sing
oor my verlore skatte
in die groen

ek onthou die warm
jou son, my plaas en ons kalm
onthou jy die onskuld
toe ons kinders was
hand in hand,
My skat.

En as die bries snik deur jou bruin
as jou wimpers my hart saggies omlyn
ek gryp jou woorde vas
ek weet dis net nog een dag
voor ek val, waar is jou hand?
( vir rein )

“dak-sterre” – Suné Winter

in die donker lê ek met die ring
en bekyk lewe van alle kante af:
familie, vriende en jy.
kan jy dit saam bring?

hey there you with the stars in your eyes,
kan jy my glimlag saam bring?
want party mense is net soos stads-sterre
-jy moet werklik mooi kyk om hulle prag te sien-
’n flou flikker met goodbyes

in die donker lê jy en ek wonder
of jy ook die sterre sien skyn
op my dak
is jou dak ook vol pyn?

hey there you with the stars in your eyes,
kan jy my glimlag skep uit pyn?
want party mense is soos ons plaas-sterre
-dieslefde sterre, net nuwe omstandighede-
wat helder glimlag, vol nuwe goodbyes
( vir ons )

“In my skraal jare” – Martin Zaayman

In die swaarste van tye
Met die see se laagste getuie
In die droogste jaar
En al is dis oeste skraal
Al hou die skape op lam
Selfs al lê daar geen druppel in geen dam

Sal jy steeds hier wees
In siel en gees
Om my in jou gebede op te dra
Selfs sonder dat ek vra
Jy hou my na aan jou hart
En vertroos al my smart
Jy’s die broodnodige reën
Wat my droë veld kom seën
Jy’s die seisoen se eerste kalf
Wat my gemoed met hoop kom salf
Jy’s my groen mielie lande
En jy blus my veld brande
Wanneer die sewe maer koeie oor die rivier loop
En al is daar niks op die lande om te stroop
Steeds sal ek jou hê
Jou hart wat styf by myne lê
My toevlug
My dief
Ek het jou ongelooflik lief

“Hemelruim-hart” – Jeané le Roux
Jy het ’n storm in my oë
agter gelaat
Die hemelruim in my
hart
Donker met lig wat
plek-plek
deurbreek
Jy het ’n oseaan
op my kussing gelos
Dele van my hemelruim hart
op die bodem
Soos kosbare goud op ń
seerowerskip
nooit weer te vinde

03/06/2020

“Eerste Gebore” – Mijaune Smith

jy wil ry om die tennis te gaan kyk
“oumense sit om na die see te kyk”
ek dink net jy’s bang
hoe maak jy ’n kraan oop as jy nie die instruksies het om dit oop te draai nie?
blinker en flinker
aanvaarding wat verlore dryf in jou opgemaakte bed
dalk sal hy eendag besef wanneer hy die wonde op jou lyf sien

dalk dan sal hy sê hy is trots op jou
dalk dan sal hy sê is lief vir jou

dalk dan

“Geel Supernovas op Dikkopvlakte” – Mijaune Smith

wie sê kuns launch emosies?
supernovas bly my by
dalk is dit die bloukolle, tevergeefs
ek try die donnerse doel uitfigure

ek glo, ek belowe.
ek verstaan, kyk.

Kom ons speel join the dots
onder die sterre van Dikkopvlakte
ja, daar waar my vrees eerste anker
Ek het Hom gesien en die elektrisiteit van Sy vingerpunte gesoen

ek het nog tyd voor ek groet
maar vir nou, stay in the lines terwyl
Junior die basnoot speel
en die lewe weer inplant in my borskas

ek sal wag in die veld op die wit plastic stoel
soek vir die geel wat skyn,
ja, die supernova
dis Hy

bring die beskuit vir die groet van die son en die dou
wanneer jy my vind, wys my jou oë
sien jy self dit glinster ook geel?

“Die tyd het gekom” – Mijaune Smith

ek sien jou uitfokus
dis uit fokus, sien jy?
my droom tussen die plafon en hout
dis al drie dae en ek soek nog vir n dientjie

luister mooi
jou sinne is gedigte
kuns is die seisoen
a never out of style phrase

deurlopende winter trane
berei die bruin blare voor
bloeisels spoeg n joyful noise
en die branders glinster in jou sandbesmeerde ray bans
maak oop jou oë,
see again
die tyd het gekom

soos die voëltjies die fluit van die ketel namaak
só sal ek jou stem volg
in ritmes en G sleutels

sluit die geheime toe
skryf dit neer
gly van fret tot fret
staan regop, die tyd het gekom.

’n Gedig deur Delaine Prinsloo

Daar was hoop eens op ’n tyd, maar die donderstorms was net teveel.
Ek is anders en hou van anders wees.
En dit het jou gepla dat ek anders was en is as die res.

Baie gewonder en gehoop jy sou luister.

Jy het gesê my mure was te hoog gebou.
En ek was altyd soos vuur wat brand met sterk vlamme.

My hart is van glas en ek is fragile.
Het al baie trane en vrae gehad.

Om met ’n persoon se hart te mors, het vir jou ’n prioriteit geword.

Jou lippe was bitter en jy droëer as die karoo.

Jy was die doodloop straat. En dis waar als gestop het.

Jy het begin twyfel in jou swakhede
En dit het jou houding geword.

Ek het gedink ek ken jou, maar dit was ‘n valse jy.

Ek het op ’n tyd jou lewe in gekleur. Jy was soos ‘n voël verskrikker.

Jy was onvoltooid. Ek kon die kan nie omgee gevoel in jou oë sien..

En net nou en dan het die realiteit vir jou sin gemaak..

En die uurglas het uitgeloop.
Als het tot stilstand gekom..

“#selfgesentreerd” – Armand Storm

Die wêreld is rof
Die wêreld baklei

Riots
Conspiracy theories
En CIT robberies
Mevrou Zuma
Ons land is ’n tronk
Die rokers is bevønk
Amerika
George Floyd
En polisie geweld
Donald Trump
Die virus
Dis ’n ramp

Ek is gatvol
En ons is in die donker
Die gevaar is oral om ons
Maar ek het ‘n dak oor my kop
En vleis in die vrieskas

Here, help my
Om te besef
Ek is nie so belangrik nie

Selfgesentreerd
Is ons Afrikaners
So bang vir #blacklivesmatter
Die wêreld gaan van ons vergeet
Shame
Jy het nie sigarette nie
Sommiges
Het nie kos nie

Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie
Maar maak dit makliker vir die wat dit moeiliker het

Dit is ’n bietjie hel nou
Maar wys ’n bietjie Hemel
In en om jou

’n Gedig deur Nastasha (gaan volg haar by @skilder_met_digkuns)

Daar is ’n diep genoeë skoonheid rakende die winter. Die koue
laat liggaamsvreugde in my groei,
terwyl die natuur verblyk en verkleur. Selfs al neem koue koeltes
genadeloos die lewe in golwe,
bring die winter ook ‘n stille wete
dat die lewe weer sal ryp word.
So is die mens ook,
die kragtige belofte van
ontwaking na uitwissing.

Nog ’n Gedig deur Nastasha 

Verlore in sluimerende drome,
het ek gestaar na die bergreeks
van verlede. Daardie berg
waarteen ek moes opklim en uitklim, totdat my hart gebrand het van die aanhou probeer. Die vreugde
wat ek my aan kan verlustig,
met die wete dat ek
die berg verower het.
Vergesel met die skoonheid
van weemoed wat al begin
gesond word het.
En nou, is dit net ék en
die onbekende pad
weer voort.

“BybelPapier”  –  Madia Steenkamp

die mag in die fyn van die Papier.

die sap van vrugte wat afloop by die mond van ’n honger Gees.

Heilige bloed wat vloei deur die keel van die wat dors is na die ewigheid.

die omblaai na krag wat berge versit om te kan lewe volgens die Skepper se definisie van die lewe.

atome, molekules, DNA, vingerafdrukke, emosies, tyd, waarde –
enige aspek,

in
die mag in die fyn van die Papier.

“HOOP” – M. de Kock

As die wêreld vergaan
Ek en jy voor ’n kruispad staan
Sal jy my red
Of oorlewer aan die genade van ’n vinnige skietgebed?
Sal ons liefde sterk genoeg wees om weerstand te kan bied
Teen hierdie verwoestende donderstorm of is dit als bloot verniet?
As ek my hoop in die liefde verloor
Sal jy my vashou en oortuig tot ek jou stem weer kan hoor?
Al lyk dinge dalk nou vir my anders en voel ek verward
Hou my asseblief veilig in die holte van jou hart.
Oortuig my dat jy my sal liefhê vir altyd
Dat jy by my sal bly tot in ewigheid
Dat jy my weer gaan kom haal en ons met jou ou Datsun ry
Tot daar waar ek en jy in ons houthuisie gaan bly

“Eenvoud” – Chantel Jordaan

Op ’n stoep in Italië
Of op ’n trein in Parys,
wil ek die eenvoud van die lewe
met jou deel.

Maar verstaan ek eenvoud
wanneer alles rondom my en jou
nog net kompleks was

’n Gesplete liefde vir dit wat eenvoudig is,
maar ook kompleks is
’n Liefde soos wat ek vir jou het

Daarom sit ek steeds by die huis
en nie op ’n stoep in Italië
Of op ’n trein in Parys

“Hoe ver” – Chantel Jordaan

Hoe ver sal ek gaan

Hoe ver sal ek gaan om vir jou te bewys
Die idee te bewys dat ek is wat jy soek
Ek is wat jy nodig het
Ek is genoeg

Hoe ver kan ek gaan

So ver soos wat jou gedagtes kan hoor
So ver soos wat jou siel kan strek
So ver soos wat jou hart kan voel

Hoe ver sal ons gaan

“Stasie” – Chantal Jordaan

Op watter stasie kan ek jou vind

My arms uitgestrek soos antennas
wat sein soek op die Platteland

My hart draai soos ‘n knop in my maag
opsoek na jou stasie
Die een waar ek jou kan vang
Die een waar ek na jou kan luister en jou voel

Sal jy dat ek jou stasie vind
of meng my siel in met jou seine

My arms raak moeg
maar die knop in my maag sal aanhou draai

Op watter stasie kan ek jou vind

Leave a Reply