Categories
Gedigte

Die week se beste gedigte

Dit vat elke week ’n uur of twee langer om deur al die gedigte te gaan. Ek is dankbaar vir daai uur of twee – dit wys dat gedigte groei. Ek het nooit geweet dat daar so baie mense is wat skryf nie? What a place this is.

Hierdie week is ek ook verbaas oor hoe temas altyd oorvleuel. Dis asof ons kunstenaars almal uit dieselfde plek ons kuns gaan haal – ’n geheime stroom waar daar blomme groei waarvan net kunstenaars weet?

Dis so moeilik om te skryf oor die liefde, want so baie mense het al. Vir lank was ons almal bang om dit te doen – want ons wil oorspronklik wees. Hierdie week wil dit lyk asof daar blomme gegroei het by die stroom wat ons die moed gegee het om weer duidelik te skryf oor liefde. So baie van hierdie gedigte kyk weer na hierdie heilige en onuitputbare bron van inspirasie. Want, soos ek nou besef, is daar vyf woorde wat anders klink uit elke mond en pen: “Ek is lief vir jou.”

Dankie weereens,
Danie

“Self-isolasie” – Suné Mostert

Ek wens ek kon sê dat
self-isolasie eensaam is,
maar die gedagte van jou
verwring die bene in my ribbekas,
dit steek iewers links
van my borskas vas en
volg my rond soos ’n doodskaduwee.

Miskien is ek melodramaties…
maar Almero sing sin uit my kop en
jou gunsteling Spoegwolf liedjie
se lirieke is al agter my oë gegraveer.
Hoe kwarantyn ek myself teen
die idee van jou?

My slaapskedule word inversie
op die aande waar ek nie jou naam
van my lippe kan afkry nie,
die kafeïne op die bodem van
my koffiebeker verlustig hulself
in my slapeloosheid.
Ek wens ek kon sê dat
Self-isolasie eensaam is,
maar my gevoelens vir jou
spook steeds by my,
op hierdie hoeveelste dag
van kwarantyn.

“Elke aand is vanaand” – Suné Mostert

Vanaand lê ek my hoof neer
op ’n grafsteenkussing van sywurmwebbe,
want my plek in jou arms
is oortrek met spinnekoprakke.

Vanaand bêre ek my gedagte in die mik
van ’n ou geelhoutboom want
jou skadukring was veels te klein
vir beide van ons.

Vanaand bottel ek my trane
in ’n miershoop op omdat
jy nie hier is om ’n
molshoop daarvan te
maak nie.

Vanaand soek ek na die glimlag
wat ek aan jou toevertrou het,
in jou hande geplaas het
en so effe verwring teruggekry.

Vanaand droom ek van arendswoorde
wat ek wens jy vlerke wou gee.
Diep binne jou ribbekas
lê die wind en hiberneer.
Maar sal somer kom?
Sal jy die voëltjies
laat migreer?

Nog ’n Gedig deur Suné Mostert

Ek versteek jou in komplekse metafore,
skryf jou vas teen die versreëls
van my woorde en
verwring jou om in rymskemas
in te pas.
Ek verander die lettergrepe
van jou naam,
ontneem jou van erkenningsregte,
omring jou in ’n glaskas titel
waaruit jy sukkel om te ontsnap.
Ek vervang frases met dié
uit jou mond,
pen jou menswees in sierskrif
tussen die blaaie van ’n leë notaboek en
in laataand skryfsessies
leer ek jou ken.
Ek sien jou tussen die strofes,
stel jou gelyk aan skryf,
reduseer jou tot ’n enjambement,
en dig jou paradoksaal.
En daarom verklaar ek jou nou
die ruggraat van al
my digbundels.

“Troualbum” – Suné Mostert

Ek het in die stoorkamer
na ’n platespeler gaan soek,
maar het toe op jul troualbum afgekom.
Vandag sou 22 jaar wees… Maar dit was uitgekerf in
die hout van ons ou kombuistafel :
Net 12.
Waarvan ek met 7 twaalfdes
daarvan geseën is.

Mamma en Pappa,
ek weet nie of ek so mag sê nie,
maar ek mis julle liefde.
Ek mis die kyk in julle oë
wat in die verblykde foto’s
terug reflekteer.

Ek verlang na een kersboom,
fliekaande, spookstories,
uitstappies met die ou Chevvie-bakkie
en die aandetes waar ons stories
mekaar vasgehou het.
Ek verlang na daardie dae.

10 jaar… dit is die verskil.
En ek wonder soms
hoe dinge anders sou wees al
probeer ek hoe hard om
van die verlede te vergeet…
Maar onthou asseblief :

Ek is lief vir jou Mamma,
Ek is lief vir jou Pappa,
Al dra ek nou dubbel soveel fotoalbums
as wat ek moet.

“Winter” – Suné Mostert

Jy het my saam jou wintersklere
in ’n kartonboks toegevou
en heelonder in jou hangkas
weggebêre.

Die son het teen jou
kantgordyn kom influister
en Somer voor jou venster
kom neerlê.
Hoe beeldskoon die draai
van ’n seisoen nie vir jou kon wees.

As ek myself hard genoeg verbeel
sien ek jou soms hier,
in een van die truie wat jy
op daardie laaste Wintersnag
langs my sit en opvou het.

Maar wanneer die fasade ontrafel
is ek weereens net ’n vyf sentimeter gleuf
in die kartondeure van jou vergeet –
ek versmoor tussen jou langmouklere,
want dis Somer my lief.

En soos wat Sy haar laaste helder
dae deur jou vensterbank weef,
en Winter Haar vingerpunte
onder die deur begin omkrul,

Wonder ek…
sal jy die stofbedekte oorblyfsels
van my hart tussen
jou te-klein wintersklere
kan herken?

“Sprokies verdraai” – Chantel Cloete

Kraakvars is die pyn
Van Bittergal,
Brolloks wat
Met geen gras onder die voete
My vervang met ʼn fontein in sy bed

Hansie laat val die klippies
Tussen die stegies
Terug na jou hart

Super sexy Sneeuwitjie
Se prins verdwaal
Op die lekkergoed-huis
Heks se pad

Maar

Wolf besef met ʼn balk in sy hand
Die strooihalm
In Rooikappie se mandjie
Was net goed bedoel

Heidi se berg
Buite bereik
En Oupa se bokmelk is suur

Storieman
Het sy rooi tassie gepak
My verlaat
Verhale saamgeneem
Gelos met ʼn wit skoon leë papier

#Vinkel

“Naweek Rantsoen” – Chantel Cloete  

My hand begin bewe om te skryf
Van elke breedvoerige deel van jou lyf

Jy het die oë van ʼn Vrydagaand
Die glimlag van ‘n perfekte glas Merlot

Jou woorde word my giggelend Saterdagaand
My gunsteling
Sondagoggend laat slapie lippe van jou

Ek dors na my naweek rantsoen
Ek het my verbeelding gelos in soetlandsit
Dus is ek verniet verbolge

Waarvoor ek aanstig wag
Is nog ʼn naweek se roepende klank golwe

#Vinkel

Duné van Jaarsveld –“Lewe”

Hy sit in sy leer stoel
onder die staanlig in die hoek
van sy groot sit kamer
met ʼn glas goue whiskey in sy hand

die harde alkohol brand
ou wonde oop

hy dink aan sy ma
se drome vir sy lewe
en sy aspirasie as ʼn jong man
hy onthou sy eerste paycheck
en die gevoel daarvan;
ʼn sensasie van hoop en
drome van ʼn opgeruimde, goue toekoms.
hy vat nog ʼn slukkie

hy dink aan sy twee kinders
sy vrou en haar nuwe man
hoe hy nou alleen moet sit
na ʼn lewe van sielverkoop
om vir hulle te sorg.
hy vat ʼn laaste slukkie

Die man is moeg;
die lewe het hom om geslaan.

“Covid-19” – Duné van Jaarsveld

tussen vier albasterwit mure
skryf ek ʼn ballade vir ʼn enkeling
met ʼn hart wat volskiet van heimwee

die meedoënlose
dompelende dofdooie stilte
het ons samelewing oorgeneem

nou is daar slegs ʼn virus
wat flambojant (en met gemak)
in die strate rond flankeer

die mensdom is onttroon.

“Orkaan” – Duné van Jaarsveld

Ek het my hart met jou gedeel
omdat joune net half was.

Jy het jou hand in my borskas in gesteek
en jou ander helfte geëis

onnbewus van die orkaan in my hart
het ek meer en meer
van my
met jou gedeel
en gehoop dat jou
onvoltooide wese
eendag sal genees.

Dit was ʼn stormagtige dag
die wolke was dik en donker
gepak op die horison

Jy het met jou geëisde dele
(die helfte van my hart)
willens en wetens
weg gewaai.

Bewus van die orkaan in my hart
besin ek die volgende:

Niemand kan jou onvoltooide dele
genees behalwe jy self nie.

“Ek is lief vir jou” – Kayla Hobkirk

Ek is lief vir jou nie omdat jou hart myne verstaan nie en ook nie omdat jy my eerste lief gehad het vir wie ek is nie want ek en jy het geweet die eerste dag toe ons mekaar ontmoet dat jy ’n groot aandeel in my hart gaan hê maar omdat ons ’n ster in die Hemelruim deel.
’n ster wat lig op ons paaie gewys het asook ons geleer het van opregte liefde, God se liefde.

Daardie ster het geweet dat ek en jy vir ewig mekaar sal vorm en bou waar dit nodig is, mekaar sal dra deur die storms wat die wêreld vir ons inhou en die paaie te versterk wat verbrokkel het met tyd.
Daardie ster het presies geweet dat ek en jy saam ’n verskil kan maak in moeilike en goeie tye.

In my stiltes verstaan jy my hart sonder verduideliking,
In jou trane verstaan ek wat jy wil sê sonder woorde en ons harte praat die selfde taal met net een kyk.

Ek is lief vir jou

Nog ’n gedig deur Kayla Hobkirk

Ou liefde roes nooit.

Jy sien:
Wanneer een hart ’n ander lief het sal die liefde altyd daar bly.
Die konneksie tussen teenoorgestelde poorte trek mekaar altyd aan, soms kies ons net om die uiterlike konneksie te vermy of glad nie weer te konnekteer nie.

“Koue vingers” – Brendon Delport

Daai trui van jou
dis groen en blou
dit ruik nog soos Knysna se winter dou

Gordyne van rooskleur
wapper teen jou ruit
die een waar jy skelm die camels uit smyt

Blaas jy nog jou longe uit
teen my kamerruit
om ’n brief met jou koue
jou koue vingers te skryf

Dan buig jy af en dan bid jy sag
op jou carpet burn-knieë
dat Jesus die son sal vra
om jou nog tyd te gee

My posduif wat selfmoord pleeg
teen jou golf, geroes en groen

Met my woorde onder sy vlerk gesteek, ’n blou koevert en ’n soen

“Jy – die wêreld binne my” – Lojandrie Kirsten 

In die wêreld binne my,
Daar vind ek jou.

Jou liefde,
Soos ’n weerligstraal,
Shot,
Jy het my.

Jou bestaan,
Die vonk van my siel,
Die rede vir my glimlag,
Jy is Die Een.

Jy staan voor my,
En met woorde wat deur my gedagtes gly,
Staan ek verstom,
Ek is lief vir jou.
Jou liefde,
Spoel deur my are,
En na soveel jare,
Wil ek jou nog steeds soek in die skare.

Toe ek jou ontmoet,
Was ek klaar gereis,
Spoegwolf ken sy storie,
Ons, eendag, oud en grys.
’n Belofde aan jou,
Voor God,
Die grootste droom,
waaraan ek vasklou.

My liefste mens,
In die kamers van my hart,
In die huis van my siel,
Daar vind ek jou.

2 word een,
Die wêreld binne my,
Gesinchroniseer met,
Die wêreld binne jou.

Ontmoeting – Zané Steyn

ek het liefde vir die eerste keer
op jou lippe ontmoet.
dit het my voorgestel aan die soetheid
van beloftes oor die toekoms,
waar die sondagoggend-son
ons in ons dubbelbed kom wakker streel
en ek vir jou ’n koppie gevul met
“ek is lief vir jou” bring;
bietjie melk, twee suikers.
dit het my voorgestel aan verlange
van komende saterdagmiddae
waar die straat se gedruis verlore raak
in die ritme van jou heuningstem,
terwyl ons op ons verspotte geel bank
sukkel met die frustrasie
van ’n huisgenoot blokraai.

na hierdie ontmoeting,
het ek liefde in die oë gekyk en gesê:
“kom ons vat ’n kans.”

“ ’n Leeftyd van liefde” – Zané Steyn

ons liefde was nie bedoel
vir hierdie leeftyd nie.

dit was bedoel vir
onskuldige kinderliefde,
waar ons modderkoekies bak
en later mekaar,
laggend en vol lewe,
daarmee gooi.

dit was gemaak vir
skaam tienerliefde,
waar ons briefies in die klas
rondstuur:
met gediggies en soete
woorde wat ons harte laat fladder

dit was geskep vir
ouma-en-oupa liefde,
waar ons op ‘n bankie
vol ’n lewe se herinneringe
die tuiste wat ons saam geskep het
in mekaar se arms bewonder.

maar in plaas daarvan
kry ons jongmens liefde:
’n liefde vol afsydigheid en oordeel,
en die afwesigheid van vertroue
wat verplaas word
met besluite besmeer met lus.

ons liefde was nie bedoel
vir hierdie leeftyd nie,
en sal ook nooit wees nie.

“Ek Weet” – Zané Steyn

ek weet;
hoekom my glimlag
haarself van die wêreld weggesteek het.
hoekom ek slapelose nagte
met my gedagtes omdans.
hoekom my geluk
gegaan het en nooit teruggekyk het nie.
hoekom liedjies
my in gange, gevul met ons foto’s, af lei.
hoekom my pen
en papier nie oor liefde wil praat nie.

ek weet hoekom.
dis jy

“Geel” – Zané Steyn

jy het my in sonlig gedoop,
haar hitte soos pure ekstase
oor my laat vloei
en haar strale oor my lyf laat dans
soos jou vingers altyd doen.
jy het my in sonlig gedoop
en in my oor gefluister:
“jy slaan my asem weg in geel.”

“Vergifnis” – Zané Steyn

ek moet myself vergewe,
maar ek stel dit uit.
dit is heeltyd volgende naweek
of een of ander tyd.

hoekom weet ek ook nie.

miskien omdat ek soos ’n dwaas
na ons twee deur ’n rooskleurige
filter gekyk het.
hoe dom was ek nie,
om te dink dat ons dieselfde
gelukkige einde met
danie en sy lenie blou sal deel.

ek neem myself kwalik.
daarom smeek ek elke aand
om vergifnis,
maar ek gun myself nie dit nie.

ek verdien dit nie.

“Primitief Verlief” – Bianca Nothnagel (gaan volg hierdie ongelooflike digter by @bn_gedigte)

Wanneer ons hande mekaar s’n vind
Vang die oomblik in ’n edelgesteente vas

Luister,
Hoor hoe druis die heelal
van die oerknal se roeping na ons.
Voel hoe bibber en bewe die grond onder ons voete met elke
fladder en klap van ’n skoenlapper se vlerke.
Ruik hoe die sy vars druppels op die grond van hartsgeheime stort.
Proe die lippe van herfs, wie haar aarbeirooi hare giggelend vleg.
Sien hoe die melkweg haar konstellasies verstotelinge maak om minnaars ster-gekruis te hou,
maar steeds in die midde van die chaos, vind ek myself geheg aan jou.

Is ons die enigste gewaarborgde onsekerheid?
In mekaar se arms toe gevou en uitgesluit
Onblusbare vlamme in ons permanente isolasietyd
Ek was gemaak uit jou ribbebeen uit

Twee siele wat tot liefde verwring is,
wie in ons eie menslikheid tot mekaar verbind is.

Wanneer ons hande mekaar s’n weer vind,
weet net,
ons menslikheid was al in die tuin van Eden gebind.

-BN

“Kunswerk van Verlange” – Bianca Nothnagel

Geïnspireer deur ’n Kunswerk van haar vriendin Kyla)

Ek verf ons hande
op die leë skilderdoek van verlange
Ek asem jou in soos ’n sigaret
en gooi jou weg soos ’n leë bottel gin

Ek verlang na jou teenwoordige afwesigheid
Ek verf dit met elke streep van my verfkwas uit
Ek verlang na jou bewondering soos DJ Opperman wat verlang na Van Gogh se vlammende sipresse
Ek verwyder die verlange met my skilder-mes
Ek verlang na ons tyd saam, alhoewel ons tyd soos ’n halssnoer om ons nekke dra
Ons was ’n tydelike meesterstuk, selfs die Mona Lisa het haar wenkbroue aan liefde geskenk

Jy wat jou bene saam met myne gevleg het, soos die are in my polse hulself aan mekaar geheg het

Bloei ek nie meer oor jou liefde nie

Ek verf jou vandag uit my hart, uit my longe en uit my lewe uit.
Ek doop my verfkwas ‘n laaste keer in geheueverlies
Impasto was ons beste liefdes tegniek,
Maar ons liefde dra baie lae en romanse was lankal nie meer daar.

“Vergeet” – Anke Eksteen

Ons wentel op dieselfde planeet maar ons is nog steeds wêrelde vêr van mekaar en ek wonder, dink jy soms nog aan my, of het jy al lankal vergeet?

Ek het in die midde van die somerson weer oor jou begin wonder, en met ’n glimlag spelend om my mondhoeke sien ek ons laaste koebaai in die brekende branders afspeel, ’n herinnering wat ek vir altyd in my hart sal dra.

Met goue akkerblare het ons al die somer gegroet en ek dink nogsteeds elke dag aan jou, van elke ligte gesprek, tot oomblikke wat ons ons harte oopvlek, en steeds vandag laat jou natuurlike, ruwe prag my nog verslae.

Intussen-tyd het die winter plek-plek al sy merk begin los en het ek al oor en oor woordeloos tot die Here gebid en Hom gevra om jou asseblief vir my te bewaar totdat dit Sy wil is om ons wêrelde weer een te maak, want ek sal eerder geduldig wag as om van jou te vergeet.

“Vir jou” – Anke Eksteen

Ek wil weet.
Weet wat dryf jou sonder ophou.
Weet waarheen jy vlug, na wie draai jy so ontstig?  Want soms is ons vlugtelinge wat eintlik net weghardloop van onsself.

Ek wil help.
Help al verstaan ek nie jou onvermydelike kommer en seer.
Help troos as vrees koudbloedig jou snags versteur. Want soms is ons bittereinders kwesbaar gelaat deur die verlede.

Ek wil luister.
Luister met geduld omdat jy moeisaam jou hart op jou mou dra.
Luister na alles wat op die ou end jou hele wese vorm. Want soms is ons kluisenaars skugter vir die klop aan die hart se deur.

Ek is hier.
Hier vir wanneer jy gereed is.
Hier vir altyd.
Vir jou

“Kerk toe” – Kyle Macdonald

Loop daar met die paadjie
En loop deur die swart hek
Loop in by die houtdeur
En laat jou hart jou lyf trek

My vriend, my broer
Laat jou siel in vrede bruis
Dink diep oor die woorde
Voel dit aan, voel die kruis

Gaan praat met die mense
Oor die diens en jou emosie
Want daar’s ’n rede vir die geselsies
Dis ’n soektog na simpatie

Probeer jouself aan Jesus bind
Want ons is almal eintlik eenders blind

“Wense” – Jean Le Roux

Het jy al ooit na ’n persoon gekyk en gedink
Saam jou wil ek die lang pad aandurf
Met die wind in my hare
En Kings of Leon wat deur die vensters spoel
Saam jou wil ek langs ’n kampvuur sit
Met ons stemme wat laggend in die donker weerklink
En die koue wat aan ons vingers klou
Saam jou wil ek in klein dorpies stop
Kamera in hand
En klein intieme oomblikke vas vang
Saam jou wil ek in die reën dans op die teer van n verlate pad
Net ons
In die oomblik
Al wat ek het is wense en die harde realiteit

“Bitter broosheid” – C.J. Swanepoel

Daar reën sinnelose woorde.
Binne my winters siel.
Wat my broosheid bedek
En sin bring tot wat my verniel.

Herinneringe wat rondom my dwaal.
Jou fyn lippe wat my hart bedek
Met fyn gekerfde gedigte
Wat liefte minder sinneloos maak.

Sonstrale wat my lei
Na jou voice mail replay
Brose winter wit trane van.
Is jy nog lief vir my?

“Blomme in jou hare” – Suné Winter

die lewe is ’n ster
waar jy net val en val
in ’n heelal met geen klank
geen koord
ek is jou ster tot in die grys
dis altyd grys
met geen antwoord
Wat jou in ’n sirkel sit
om saam met jou gedagtes
saam die naald
geruisloos te dans
oor die plaat

en voor my oë vir ’n laaste keer toe voel
in die nag
onthou hulle sterretjies wat glinster
op my dak
en die lewe wat saam met hulle daar
vasgeplak was

die sterre is baie helderder op die plaas
in die natuur weg van alles at last
as die gras en die dou
jou op die rug kielie
en die donkerte oop flap
sien jy ʼn prentjie
geverf net vir jou
hartvullend ontwerp
hoe langer jy droom
hoe langer jy staar
hoe meer sterre kom daar

Die lewe is ’n litteken
maar dit sit blomme in jou hare
dit is ’n atmosfeer vir my sterre,
as ek op my oupa se voete staan
teen die ritme saam die naald
as ons dans oor die plaat
( vir almal wat nog hulle geverfde prentjie soek )

“vir daai dag” – Suné Winter

jou musiek bly in my ore speel
as ek weer dink aan die Desember vakansie
en die keer daarvoor
toe ek jou
met sekerheid kon hoor
jy wat voete graveer
deur my paaie
my dra
deur die Blaaie
as my lewe moet opgee
as my trane my aan die slaap wieg
as ek droom oor ’n fantasie
waar ons harte saam kon sing

die musiek oor die kar speaker slaan in my in
as ek opnuut probeer
begin ek onthou
van daai tyd
met die miljoene lewens lesse daarin

as jou lewe moet verdwaal
in die nuwe-bekende

sal jy dan kom sing
nog een maal
as my trane my aan die slaap wieg
as ek droom oor ons onrealistiese fantasie
waar my hart
nog saam kon sing?
(vir roxy)

“Of hoe nouwee?” – Suné Winter

ek sien jou sit
op die rand en kyk af
na die wêreld onder jou voete
jou oë sê dan op boontoe
‘we are but shadows and dust’
is jy dan die stof en ek jou skaduwee
as ek jou heen volg
het ons sterre êrens verdwaal
of ons net gelei uit die dag
of hoe nouwee?

En as die wind jou hare kroes-kop waai
en jou prentjie in my hart in boor
onthou net die wêreld is te duur om te bekostig
maar so goedkoop
om te verloor
het die maan die sterre gaan haal
of net gelos in die nag
of hoe nouwee?

So as gemoedere hang saam linte uit bome
gekleur in swart of dan die grys
onthou
Hy sal jou die pad uitwys
in ’n te duur wêreld
met te goedkoop harte
moet ons onthou om die
eerste voet te volg en lewe aan te pak
in ’n gekleurde skaduwee
waar die son die maan laat skrik
en die sterre gehaal is
of al drie verdwaal het
of hoe nouwee?
( vir megsie )

“My hoofstuk” – Suné Winter

Vir jou skryf ek ’n boek
met amper twee hoofstukke in
gaan ons ooit kom by ’n punt
in ons storie

die ligte is aan een vir een
maar waar is jou weerkaatsing
oor my lewe dan heen?

Jy staan by die lyn
met die begin
en so speel die rolprent
van my gedagtes daarin
met woorde te soet vir realiteit
spreek jou liefde
suutjies oor my lewe
herhalend uit:
ek sien jou pyn ek sien jou seer
ek sien jou glimlag saam die hope as
as die mense jou verniet verras
oor die ellende van die skare
in die dag
(vir theuns)

“Aan my pa” – Kayla Grobler

Jy was die een persoon wat ek gedink het gaan altyd in my lewe bly.
Tot die dood ons skei
Jy was iemand na wie ek moes opkyk
“Superhero” dis wat mens jou noem
Jy moes my eerste liefde gewees het
Behalwe jou liefde was op die randjie van ‘n onstabiele brug
dit kan enige oomblik val en verdwyn
Ek sal ’n emmer trane bring
net oor jou.
Ek voel soos ’n vreemdeling
Ek voel soos ’n teleurstelling
Ek voel skaam.
Maar hoekom, jy is dan oningelig met my lewe.
Ek wens jy kon verstaan
Ek wens jy kon my lief hê
As jy kon kies, sou ek in jou lewe wees?
Eenvoudig
jy sou nee sê want die duiwel verlei eers voor hy jou brand.
As ek kon kies het ek vergeet van jou
As ek kon kies was ’n deel van my nie aan jou gekoppel nie.
As ek kon kies sou ek jou vergewe

As jy kon kies, sou jy my lief hê soos al die res?

Leave a Reply