Categories
Gedigte

Die week se beste gedigte

Hier is die gedigte wat hierdie week vir ons die meeste beteken het. Regtig, baie dankie vir almal wat gestuur het!

“DOBBER” – Marolee Smith

dit is nodig om tyd te vat
dobber op die see van onsekerheid
this too shall pass

die roofies en bloukolle word mettertyd gesond
die wasige beklemming op jou bors verval
in en uit, in en uit
die grys film wat alles bedek word gelig

een twee drie
stadig maar seker is
die borrelende opgewondenheid
vir dit wat op pad is weer terug
’n belofte van môre
hou weer soveel onverwagte avonture in

woema, durf, waagmoeg kom sit in jou menswees
onbeskryflike genade
oorweldigend

“Gees van hom” – Kayla de Jager

Ek hoop my woorde spreek waarheid
ek hoop my musiek maak jou broos
tot waar jou gees tot beskikking kom
ek soek jou
jou harde hande teen my wit klawers
maar jou teenwoordigheid
los my eensaam.

Ek val weg tussen die hande
van ’n man.

“Legkaart” – M de Kock 

Ons is net wonde.
Ons is gebreek.
Beautiful stukke.
Soos puzzles gekweek.
Ons pas by mekaar.
Ons is ‘n kunswerk.
Wonde’rlike kuns.
Mosaïek as jy wil.
Gebreek en steeds heel.
Ons is weerlose skepsels.
Verlore en verweer.
Maar dis wat ons amazing maak.
Ons liefde,
Die salf.
Die gom.
Die steke.
Jy is my pleister.
Jy is my stukkie glas.
Jy sal altyd in my legkaart pas.

“Augustus Hulp” – Chantel Cloete

deur Augustus winde
drentel jy rond
met stywe hoon swaarbelaaide oë

jou manier van huigel
is ʼn woordeboek sonder woorde
klere vol gate
toe mond glimlag
stilte sonder rede

laat aand onder die maanlig
begin jy herrie
met jou snaar sag vingerpunte

“Ruby” tref my hart
en heers my diepste saamsing snaar

jy verdwyn – maar
jou geskenk
is my elke dag se hulp

dat as ek wil, sal ek kan, sal ek doen
en ek sal my skoenlapper glimlag bereik

Vir Jan
#Vinkel

“liefling” – Jordan Dowd

i had thought it not possible
to see eyes that blue
but here i am
drowning
in you

and as that song says
(you know the one)
those night sky blues
will forever
catch my breaths

– met jou donker blou, sukkel ek om asem te haal

“Oorversoete Koffie” – Kaylyn Vertenten

Jy sit die kondensmelkkoffie langs my neer
dan sit jy jou kop op my skoot.

Die sagte katoen wolke maak die winterlug koeler, maar ons kombers tent en jou liefde omvou my ewe gemaklik.

En ek weet my gedagtes is veilig

“Wat dink jy vat dit om teen God te draai? Dink jy dat God vir Satan ooit sal vergewe? Of dalk sal dít die eintlike Big Bang wees, maar in reverse en ons almal sal sidder om te bestaan.
Dalk is konflik die begin en einde van lewe.”

Jy sug en vat saggies ’n sluk van jou oorversoete koffie. As lewe maar so was.

“Nou nie tuimeldroërliefde nie” – Andre Viljoen

Van ’n gedig skryf weet ek baie min
My grootste droom is eintlik maar net om oor te begin

Ek geniet tyd spandeer saam met jou
Wens net dit kon bietjie langer hou
Daarom probeer ek aan verskonings dink
Kan ons asb. Donderdag nog ’n glasie klink?

Hoe klink pizza in die dorp?
Ek wonder watse verskoning jy nou gaan pop?

Ek wil vir jou ’n blom gee elke dag
Eintlik vir jou ’n tuin vol plant vir die groot “eendag”

Jy laat my nog steeds aan Spoegwolf liedjies dink
My moed maak reg om weer te sink

Ek kom dan 19:00 aan jou voordeur klop
Ek wonder wanneer jy my weer onder my gat gaan skop

Van tuimeldroërliefde weet ek min
Maar fok meisiekind, die tyd taak min

“Kartondoos-stories” – Rachelle Lourens

Ons vermaak mekaar met kartondoos-stories.
Droom van ’n wêreld, ’n bietjie anders geskryf.
Lê onder sterre en soek vir tekens,
soos die dou ons eventueel omvou.

Ons konklusie skink ons op ’n bottel wyn.
Neem die reël boek en probeer herskryf,
alles wat  die sterre ons vertel het,
vir ons verskiet as rein.
Ons skryf ’n nuwe inleiding.
Die ontmoeting van twee sterre,
twee siele groet mekaar.
Dans op die melkwegstelsel,
en teken prentjies op die maan.
Selfs die sekel het gedraai in ’n glimlag,
soos hulle verbygaan.

Twee gevul met lig,
met oë wat skyn vir mekaar.
Twee siele ontmoet,
soos twee sterre moet groet.
Hulle dra die mooiste storie
geskryf in hierdie boek.

Maar soos ek gesê het:

Ons vermaak mekaar
met kartondoos stories,
en ons droom van ’n wêreld
bietjie anders geskryf.
Maar as jy mooi kyk,
en jou oë op die hemelruim rig.
Ver weg sal jy sien hoe twee sterre
dans op die melkweg.

“W E E S   S T I L   E N   W E E T” – Marsy Olivier

Wees stil en weet
Maar wat as die reën sukkel om te kom,
Die son ongenadiglik alles skroei op hierdie Karoo-vlaktes
En die voorspellings nie eers op die horison wag?

Wees stil en weet
Maar selfs as die krale leër raak by dag,
die sakke voer net genoeg is vir hierdie week,
En die Karoo-bossies soos geraamtes in die veld staan ?

Wees stil en weet
Maar hoe gemaak as die Made-in-China-kersfeesboom die enigste groen is hierdie seisoen,
Die kerk-offer slegs klippe uit n dooie landery is
En die bank stuk-stuk sy eiendom kom haal?

Wees stil en weet
Maar selfs as die niks so hoog soos my vrese groei
Die gemoedere geknak,
gebreek,
geskeur word
En die liefde nou op die grens van wanhoop staan?

Wees stil en weet
want Ek is God;
die Eksodus-17-vers-6-God,
En daar sal water uit jou klippe kom

“Sleepsels” – FG Buitendag

Het jy al die skoonheid
van ’n bloeddruppel beleef?

Die pure plesier
wanneer jou gedagtes gons
en die druppels plons

Die sig
van jou pyn se sleepsel
tegemoetkomend op jou been?

Die verlossing
van pyn verborge
in druppels – in horde.

Die lewe uit jou hede
dreineer en los ’n prentjie
van die duisternis wat toesak

oor die skoonheid
van jou verlate lewe
gekleed in littekens
en droëlope van vervloeide smart

“Hartsmens” – Simone Ras

ek soek eksotiese woorde
om ’n eksentrieke mens
te probeer beskryf.
as ek mooi deur die krake van jou oë kyk,
sien ek die lig wat daardeur skyn
en hoe dit jou seer kan visualiseer.
die voue in jou hande
bevat stories van al die mense
wie geraak was deur jou.
deur jou hart se paaie
het mense geloop en huise begin bou.
jy verwelkom so baie in jou hartshuis
omdat die lig van jou oë af drup
na die stoepe van al die huise.
jy is ’n luisteraar en wonderaar
en elke aar wat na jou hart toe loop
bevat die stories van ander se seer.
jy verdwaal soms weg
opsoek na die blomme in die veld,
maar dis ook goed,
want sonder jou
sou die tuine wat in jou hart geplant word
ophou groei
en wie weet wat met die mense gaan gebeur wie daarso woon.

Gaan lees meer van Simone se ongelooflike werk by haar Instagram Page @geelskrif

2 replies on “Die week se beste gedigte”

Leave a Reply