Die branders het jou onkant gevang
Met jou sandkastele op mekaar gestapel
Dis besig hier in Stilbaai
Kom,
Kom ons hardloop weg van al die skote in die Cape Flats
Vaderrolle speel wegkruipertjie en die kinders verdwaal op die soektog
Die bloed versmoor die dorre blare in Athlone straat
Ek wil jou al die kleure van Tafelberg wys,
Met Robbeneiland wat vir vrede roep
Daar op seinheuwel het ek gewag
Kom,
Kom ons verdwyn tussen die weelde van Clifton
Hier is armoede onbeproefd
Die lewe in die Kaap is onvoorspelbaar
Die cops jaag die skollies tjoekie toe want die Young Ones vereer misdaad
Kom,
Kom ek gaan wys jou Houtbaai
Waar n visserman sy Rob voer
Sonder hom is die man se siel leeg
Bewegings word vasgevang in wynplaaswingerde
In die kalmte van jou aanwesigheid kon ek my kranse oorsteek
Dis magic sê ek vir myself
Kom,
Kom ek wil die lewe van Stellenbosch verken
Totdat die moreson my wintersoggend asem kom oorneem
En ons laat vergeet van gister
Ek is warm geheet in Koelbaai
Waar Brilpikkewyne doelloos ronddryf
En wag vir n tweede asem
Kom,
Kom maak n woning hier in my hart
Hierso in die Blou Kaap
~Dian Van Zyl