Net die Natuur kan jou wys

Die Rivier Forums Fan Gedigte Net die Natuur kan jou wys

Viewing 1 post (of 1 total)
  • Author
    Posts
  • #2940
    AvatarJacobus Coetzee
    Participant

    Opgedra aan:
    Die wat lewe

    Woorde

    Wat is woorde anders
    As ons siel se speelklei
    Wat ons vorm en vou
    Met ons hart se hande
    Om dit wat in ons is woed
    In iets te verander
    Iets verstaanbaar
    Iets aanvaarbaar
    En dit dan met hoop
    In die rigting van die wêreld
    Te bevry

    Beitel-brein

    Terwyl ek woed met my beitel-brein
    Om die regte woorde uit my amper-ryp hart vry te laat
    Word ek net moedeloos en hou op
    Toe dit net te veel van ‘n frustrasie raak
    Jy sien ek sukkel, tel my gekrapte hart op en plaas dit
    In jou watergevulde hande
    Wat dit weer sag maak
    Soos jy rustig begin praat:
    “Alles gebeur op natuur se tyd,
    Eendag sal jou woorde soos Jakaranda saad uitbars
    En sweef tot waar hulle,
    Die groot bome,
    Pers blomme met trots sal dra”

    Dit is goed om asem te haal en te weet dat die natuur ‘n ritme het wat ons almal kan volg en ons almal kan verstaan. Luister mooi en luister rustig daarna.

    Wortels: Dié red my

    Ek is soms onstabiel
    En die aarde onder my voete kraak graag
    Maar dit is dan wanneer ek my wortels langs die
    Harde klip-grond skaaf,
    Myself uitstrek en wag
    Tot ek uitkom
    Net onder
    Die bome se krone
    En ek weer begin rustig raak
    In my siel

    Bou en breek

    Onafgewerk en onervare
    Met eenvoudige drome
    Begin vleg ons hulle aan mekaar
    Onder ‘n reeks skadu bome:
    Ons flitsende jonger jare

    Die lewe gooi mens rond en bond. Soek vir jou ‘n plek met ‘n mooi uitsig en werk jou wortels diep in die grond om saam met ander bome die uitsig te geniet.
    Die hoek in die driehoek

    Daar is ‘n
    Driehoek-punt dak
    Net oorkant my erf
    Wat ‘n stukkie uit die lug kom hap
    Soos die lig begin sak
    En die daglig begin sterf
    Wat
    Al bewegend
    Met veranderende kleure bly verf
    Van blou
    Tot geel
    Tot pienk
    Tot pers

    Dink net: niks is ooit dieselfde nie, tog vir ons almal so dieselfde. Die kleure bestaan al lank in ons gedagtes, maar ons kyk elke dag daarna asof dit iets nuuts is, iets anders. Kies jou kleure reg en bly aan om die mooi van die lewe, soos dit verander, te bly verf.

    Slakkepas

    Wanneer die nag sy aankoms aan ons kom verkondig
    Deur sy gespikkelde blou-swart doek oor ons te vou
    Gly die maan met’n slakkepas
    Al padlangs
    Oor die wêreld se wonde
    Wat die mensdom moes opdoen
    Terwyl die sterre ons toelaat om dit nou
    Net soos gister
    Sonder die bitter
    Te kan onthou

    Die sterre is so te sê al daar vir ewig en sal nog daar wees tot in die ewigheid, soos ons dit ken. Ons sal niks anders ken nie. Wat ons wel weet is dat ons van hulle af kom en dit is nie altyd maanskyn en rose hier op aarde nie. Maar solank ons leer, van mekaar en die liefde, sal die sterre en maan genadig wees met ons wat die kans kry om na hulle, daar buite, te staar.


    Borrels na bo

    Vanuit die donker vloer van die verlede
    Waar ons klein en beskermd sweef
    Aan die aarde gelewer
    Wat maak ons nou?
    Ons is nou hier
    Ons sweef in sirkels
    Saam met ander sirkels
    In sirkels
    ‘n Sirkus
    Ons word groter en raak gewoond aan ons vorm
    Selfs as dit onstuimig is
    Selfs as dit storm
    Solank ons bly borrel
    Borrel na bo

    Mag ons altyd sien dat die lewe mooi is, dat daar mooi mense is, en mag ons dit saam met ons geliefdes altyd kan onthou. Die lewe sal skyn en aanhou skyn, indien die wat dit het, glo in die rein en wel kan aanvaar: daar is ook pyn.

    ‘n
    Vlam
    Om die begin af te sluit:

    Ontsnap die blou deur na die skemer te soek
    En dan daarin
    Weg te sak
    En wag
    Vir ‘n dag
    Wat weer
    ‘n Nuwe veer
    ‘n Nuwe môre
    Sal bring
    Dis my enigste versoek.

    Net die Natuur kan jou wys

Viewing 1 post (of 1 total)
  • You must be logged in to reply to this topic.