Categories
Gedigte

Gedig deur D.I. de Beer

’n klein lyfie
en ek hou my ma se hand vas
soos ek probeer om
nie op die duidelike geverfde lyne te trap nie

dit blink op die teerpad
van ‘n parkeerterrein,

’n tien-sent

“tel hom op” het my ma bevel
“dis net ‘n tien sent” het ek laggend vir haar terug gesê
“ja, maar sonder tien sent gaan jy nie een rand kan maak nie”

ek was klein en onbewus

ek het nooit gedink
dat daar eendag baie tien sente in my
toekoms gevind sal kan word,
as ek net my oë oopmaak
en die blink dinge
begin raaksien wat voor my lê nie

ek is nog steeds klein
en ek het al op baie duidelike lyne getrap
vandat ek nie meer
my ma se hand vashou nie

so nou sit ek maar
alleen in my verlate parkeerterrein
sonder enige een rande,
omdat ek my hele lewe lank
verby die tien sente geloop en
lag het vir die mense
wat dit wel optel

– D.I. de Beer

2 replies on “Gedig deur D.I. de Beer”

Leave a Reply