Categories
Kortverhale

“In ’n Wêreld vol kuns, gedigte en eerstes vir almal” – Heideli du Plessis

Dit is elf uur op ’n Sondagaand. Ek drink ’n Rennie voor ek in die bed klim terwyl ek vir myself vra of dit regtig al ooit die moeite werd was om rooiwyn te drink. Dom vraag. My Sondae planne is gewoonlik kerk en dalk ’n koffie saam met vriende. Vanaand was bietjie anders, of altans vandag.

Wie hou anyway ‘n show 3 uur op ’n Sondag middag?

Ek is bietjie opgewonde. Ek staan in die ry soos ’n graad een in die snoepie ry sou staan die dag na hy sy tandemuisgeld gekry het en wag om te hoor waaroor Danie wil gesels. Firstname basis is nog glad nie ’n ding nie, maar die tandemuis ook nie so whatever. Ons gaan sit, gaan haal kos en kom sit weer. Ons wil begin eet, staan weer op, want ons sit op iemand se plek en sit toe weer vir die laaste keer. Lasagna, ’n glasie Gin en ‘Warmer voor die tuimeldroër.’

Die digbundel lees “Danie du Toit” en ek dink nie een van ons twee besef wat die aand vir ons inhou nie. Dis nogals next level om deel te wees van ’n ‘Danie-eerste’. Ek het nog gedink ek vat ’n happie van my R50 blokkie Lasagna toe mense begin hande klap en vier asof dit 12 uur is en iemand se Oupa nou net 80 jaar oud geword het. Ek kyk op en daar staan die man. Danie Reënwolf du Toit. Stoksiel alleen.

Vir ’n oomblik sien ek myself voor in Juffrou Scholz se afrikaanse klas in graad agt – net voor ‘n mondeling. My hande sweet en my bene kry hulle eie persoonlikheid.

Re-de-naars. Lettergrepe, want letterlik ‘n rede om naar te wees. Dis flippen stresvol man. Ek het geweet hy stres, want hy het self so gesê.

Sy woorde vorm my woorde en ek skryf stories in my kop

Ek kry vrede op die ritme van Lenie Blou lll se oorspronklike akkoorde

Die tannie agter my sukkel met die woorde, maar dit bly mooi

Ons is nog studente

Ons betaal kaartjies eerder as rente

En note is beter as waardelose sente

Hier is soveel meer as net Danie se talente

Dit is ’n uur later en ek dink daar kon tenminste vyf vlieë in my mond in vlieg terwyl ek sit en oopmond kou aan rou talent. Goeie donner dink ek terwyl my (koue) lasagna nog net so voor my staan. Warmer voor die show. Aaah wow. Classic Heideli.

“Gaan ons ons boekies laat teken?” vra Ruhan toe. Klein agtergrond, Ruhan het saam met Danie geswot. Daaityd.

Kyk ek was nog altyd sleg in beplanning en dit is in sulke oomblike wat genade mens net weer oor die kop kom bliksem met die sê ding “Stick with me I’ll take you places.” My beplanningsvermoë is dié wat eintlik net met ‘n tee-lepel vergelyk kan word so lang storie kort, Ruhan het ons kaartjies gereël. So ons het saam hóm aan ’n tafel gesit, wat beteken dat ons saam hóm gestap het om ons ons “boekies te laat teken” wat beteken dat ons toevallig in die kringetjie gestaan het toe Danie sy ‘vriende’ nooi vir afterparty pizza en wyn. Dit was so iets …

“Jih, Willem, gaan ons bietjie pizza gaan eet vanaand. Sal dit oraait wees?”

“Ja nee verseker, Ruhan, is jy in?”

“Yess , hoelaat wil julle gaan?”

“Sewe uur; ses dertig? “

Dit is nou waar ek en lizandie met ’n mond vol tande staan. Ons wil nou nie voorbarig wees en onsself in hierdie dialoog in skryf nie. “Weet jy, Danie, jih ons was einlik van plan om kerk toe te gaan, maar heyyyy, ek is seker ons sal ka…”

Nee. So ons staan so treetjie terug kyk vir mekaar en aanvaar dat ons obviously nie deel van hierdie uitnodiging was nie. Toe slaan die nat vis ons. Danie loop en Willem draai na ons toe. “Sien ons julle daar?” Selfde gevoel toe ek my uitnodiging vir my eerste graad vier prysuitdeling gekry het. “Ons kan?” antwoord Lizandie toe so asof ons nou sulke moerse opoffering moet maak en eintlik het ons net glad nie die uitnodiging verwag nie. Ons “play it cool” soos graad 7 kinders wat nou vir ’n junior kan sê waar hy nie mag speel nie, want if you want to play with the big dogs don’t piss like a puppy of iets soos dit, ek weet eintlik glad nie wat om nou te doen nie. Almal is al weg. Die meeste mense het al in die eerste vyf minute na die show Danie se digbundel deurgelees asof dit die nuutste Kook en Geniet van 2020 is en hulle volgende week op Masterchef moet wees terwyl ek en Lizandie in my Oupa se ou Polo Classic sit en wonder of dit awkward gaan wees om by die cool tafel van omtrent élke hoërskool kafeteria te gaan sit.

OMW Heideli. Dis nie High School Musical nie en sticking to the stuff you know is basically om impulsief te wees. So nou is dit so. Ons kry vir Ruhan by die kerk om agter hom aan te ry na die Pizza-plek wat hy voorgestel het, omdat dit blykbaar stil is.

Nou is ons hier. Of daar. Dit voel of ek vir my eindeksamen punte wag en ek sit op sulke regtige ongemaklike geel bankie by ’n tafel vol soortvan vreemde mense en wag vir Danie om sy eie partytjie te join. Ek wonder waaroor mens sal gesels en of ek hom moet vertel van daardie keer in 2016 toe ek vir die eerste keer hulle musiek gehoor het. Hoe ek en Nico Tiedt sommer net om snaaks te wees saam hulle ‘n foto gaan neem het net om die mense wat régtig in die ry staan en uitfreak eintlik net te mok en hoe ek geantwoord het met “ja, dankie, en jy?” toe Danie vir my vra of ek okey is toe hy langs my staan vir ’n foto. Of ek langs hóm en toe soos ’n idiot voel. Dis hoe dit werk.

Nou moet ek gou eerlik wees. Ek dink ek ken een Spoegwolf liedjie régtig uit my kop uit. Of ek ken tenminste 5 liedjies se koor gedeeldte. Die res is daai wat jy ken , maar ook net kan saam sing as die liedjie self speel en dan is dit ook nie eers om in full confidence te sing nie , want jy moet eers wag vir die eerste letter van die volgende woord voor jy régtig weet wat om te sing. Ek’s nie ‘n moerse spoegwolf fangirl nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek love hulle musiek, maar daar is iets aan Danie se skryftalent wat maak dat ek Lente in April mis . Dit het nie begin by daardie 2016 innibos show nie. Dit het begin toe ek die kortverhaal in 2019 agter op Koma se CD kassie gelees het. Turns out dat regtig mín mense daarvan weet, want CD’s koop is blykbaar old-school en overrated en eintlik het my kar net nie ’n Aux nie. So whatever. Die mense mis uit op iets wat beter is as enige van die gedigte in hierdie wêreld vol kuns, nuwe goed en eerstes vir almal. ’n Kortverhaal wat my letterlik meer trane in my oë gegee het as Spirit self toe ek vyf was en my regtig net nuuskurig gemaak het oor hierdie man se menswees.

Ek het so gaan sit dat Danie darem redelik naby my kan sit. Ek weet ek het vroeër gesê my beplanning is redelik next to nothing, maar sommige situasies is belangriker as kersies op ‘n verjaarsdagkoek. Daar is twee stoele oorkant my oop en een bietjie verder. So my kans op ‘n decent gesprek is redelik 80:20 en eintlik is net dat ek daar was eintlik pretty cool genoeg. Toe ek weer sien kom sit hy langs my op daardie selfde ongemaklike geel bankie en ek voel nie eers sleg dat ek hom nie gewaarsku het dat dit regtig nie ’n lekker plek is om te sit nie. Ons het cool gesprekke gehad. Doodgewone, all casual gesprekke en ek was heel tevrede net daar waar ek gesit het. Geel is afterall my gunsteling kleur. Al was daardie geel bietjie ongemaklik was dit nogsteeds mooi.

Ek was regtig verbaas oor sy menswees. Daardie selfde menswees waaroor ek oor so lank regtig nuuskierig was. Ons deel rooiwyn en gee witwyn aan soos nagmaal brood, eet pizza en Danie eet sy kalamari wat volgens my way te min was vir iets wat nie van die kiddies menu af bestel is nie, maar dis cool. Die aand was regtig cool. So tussen deur oproepe en famous-mens goed kon ons goed leer soos dat Danie régtig nie kan sien nie en dat sy bril nie net ’n ‘look’ is nie. Dat lewe gebeur het en om in te pas in graad agt nogals goeie skrywers maak. Dat tattoos by enige Piet nie die beste idee is nie en dat jou menswees nie aan jou status verbind is nie. Bliksem hy is nederig. Nie daardie ag stopit-hou-aan tipe nederig nie. Net opreg nederig en ek dink firstname basis is oraait na vanaand.

My boetie dink uiteindelik ek is cool genoeg om voor sy maats van my te praat en dis nogal ’n big deal vir my aangesien hy die hoofseun was in graad 7 terwyl ek net ’n ‘gewone leier’ was toe ek 13 was en “tonight’s gonna be a good night” nog ’n treffer was. Nou’s hy net groot en 17 en het nog nooit regtig omgegee oor wat ek doen nie. Tot vanaand. Al wat ek het van die aand is ’n skelm foto wat ek moes neem net om vir my boetie te wys dat ek nie jok nie, want hoekom sal ek op ‘n Sondag aand saam Danie en ander vreemde mense sit en pizza eet.

Ek groet hom die aand met ’n highfive en ’n glimlag en ek wonder of hy besef dat ons nou vriende is.

Dit is elf uur op ’n Sondagaand. Ek drink ’n Rennie voor ek in die bed klim. Dit was definitief die moeite werd om rooiwyn te drink.

Leave a Reply