Categories
Gedigte

“MEJUFFROU SONNEBLOM” – Henry Tromp

saam jou sal ek stap
deur sonneblom vlaktes van geluk
deur donderbuie van seer

want jy
jy het ’n vermoë waarna almal soek
’n vermoë om lewens te verander

jy verhelder gebroke leemtes
met jou skaam glimlag
jou oë n uitnodiging na die lewe
’n lewe gevul met geluk en vrede

al wat dit vat is een sekonde
een sekonde om verlore te raak
verlore in jou
jy is ’n tuiste vir verlore siele

’n briesie wat harte en gemoedere genees
jou stem bring enige storm tot rus
jy’s een van daai
een wat nie met ’n miljoen woorde
eers naastenby beskryf kan word nie

jy is enige happily ever after se einde
jou omgee skree harder as perfeksie
en dit is wat jou so asemrowend maak
jy’t ’n hart wat klop vir ander

jy’s ’n wonder, ’n droom
jy’s die begin van alle goeie gedagtes
jou naam is my bloedgroep
jou liefde is my sig
en jy’s daardie seer maar lekker glimlag wanneer ek stoksielalleen is

— Henry Tromp

Leave a Reply