Categories
Gedigte

“Portret teen jou muur” – Chantel Cloete

woord na woord 
“hekel” ek na jou 
steek vir steek 
vorm ’n tapisserie vir jou 
 
ek gebruik jou verbeelding 
om die ligging op te som 
ek maak jou liggaam vol 
totdat die ink 
in jou vel verdrink 
 
’n “pragstuk” 
hang teen jou blik 
wat illustreer 
hoe mens lugkastele kan bou en benut 
 
ek poseer 
vir jou 
sodat jy my meer 
inspireer 
 
ek “werk” vir jou 
sodat geen siel 
die satisfaksie op jou masker 
kan afvee 
 
deel met my 
jou gedagtes rondom jou onnutsige wese 
voor alles weg kwyn 
verloor my in jou denke 
voor ek al te verskene verdwyn 
 
’n absolute sonde 
is wat die portret 
weerspieël 
maar tog is dit ’n “meesterstuk” 
wat ons glad nie wil verniel 

#Vinkel 

—–Chantel Cloete

Leave a Reply