Categories
Gedigte

“Sout” – Albert Vuurwolf

Stil, broers
want die rinkhals spit giftig,
seil vlink deur die lang gras,
pik blitsig,

dip my vingers in die ink
en ek flow rustig,

oë knip oop
om te dink
in ‘n blink
rigting

Sit ‘n rukkie terug
en verdrink vlugtig
in die wind se verligting
dryf in die son
Kom ons skryf in die
wolke met
heilige brons van
‘n bevryde be-
volking

Kom ons wees veel-
sydige tolke,
slyp minder dolke,
verleer en vergeet die
verwyt en vervolging, kyk:
die spyt en die wonde lê wyd,
maar die vonke van liefde
blink helder, vang kruit in die donker

Die beat klap
soos ‘n bliksem in die winter
en die stigting
van ‘n lig- kring
is virpligtend

Drink nou versigtig
aan die wit-blitz van digters
gaan vind en ver-
bind weer
die wind se
versplinterde
kinders en
lei ons veilig weer
by die donker deur
na die groen veld, die
verblindende vlinders
verhinder ons minder
by die weerlig geleer
dat ons drome maak deel
van ‘n groter beloning

Die sout in ons wonde
is silver wat skoon brand
lyding wat reinig
pyn suiwer ons voorland
en hierdie troos voel dalk
soos ‘n vuis teen die voortand,
maar die seer ís ‘n teken
dat lewe nog voortbrand

Leave a Reply